Tuesday 11 August 2020

Stadig maar seker


Matteus 13:31-33

 

Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het.

 

32           Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33           Hy het hulle nog 'n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

 

Ons het dit al telkemale vir mekaar gesê en dit bly steeds waar. Ons leef in buitegewone omstandighede wat enorme eise aan mense stel. Die lewe is nie maklik nie en toe kom Covid-19. Baie mense beleef dat hulle tot op die uiterste  gestrek word. Finansieel, emosioneel en geestelik is daar groot uitdagings wat te bowe gekom moet word.

Die vraag na hoop is uiters relevant.

Hoop is die vermoë om verby die hier en nou te kyk en ʼn beter dispensasie raak te sien. As ʼn mens hoop het kan jy deur vandag kom ongeag watter probleme daar mag wees. Sonder hoop kan niemand lewe nie, verval jy in ʼn diepe depressie en verloor die lewe alle betekenis.

Ek hoor gereeld van mense wat hoop verloor het en selfs hul hand aan hul lewens geslaan het. Hoe hartseer en tragies dat ʼn mens by die punt kom dat niks meer saak maak nie.

Ek vertrou dat dit nie vandag jou konteks is nie en indien wel wil ek jou sterk aanmoedig om met ʼn professionele persoon of vertroueling te gaan gesels.

Moenie opgee nie, daar is altyd die belofte van ʼn nuwe dag.

Die metafore waarna in ons skriflesing verwys is is baie bekend. Daar is egter  gemeenskaplike elemente in die simbole van die mosterdsaadjie en die suurdeeg. Beide neem tyd om sy volle impak te hê. Beide se werking is onsigbaar. Beide is werking is egter onstuitbaar.

Jy kan dit nie keer nie. Dit kan nie beplan of gedagboeke word nie, dit is ʼn dinamiese proses wat sy eie dinamiek en krag vertoon. Aan die feit egter dat iets baie betekenisvol en kragdadig besig is om plaas te vind is daar egter geen twyfel nie.

Dit lyk soms of God met hierdie wêreld opgegee het. Dit uiteraard is nie waar nie.

Sy Koninkryk breek vir hom ʼn pad in hierdie wêreld oop. Die koms van sy Koninkryk is onstuitbaar, gewis en seker. Uiteindelik sal sy Koninkryk, soos in die hemel, so op die aarde en voltooide werklikheid wees. Die Koninkryk se werking is nie altyd sigbaar nie maar die Koninkryk realiseer daagliks in en deur die lewe van mense wat gehoorsaam naby God lewe en hulself beskikbaar stel om deur Hom gebruik te word.

Is jy beskikbaar?

MATTEUS 11:12

Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself 'n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.

No comments:

Post a Comment