Monday 10 August 2020

Jesus is altyd betyds


Joh. 11:19-27

 

21           Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.

22           Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23           Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24           Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25           Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;

 

Hierdie teks het my diep geraak toe ek verneem van die hartseer gebeure in die Hartswater omgewing waar ʼn  egpaar en hul dogter tydens ʼn plaasaanval gesterf het. Die voorkoms van hierdie tipe misdaad is onverstaanbaar veral wanneer ʼn mens die beskuldigdes in die media sien.

In hierdie geval word beweer dat ʼn veertigjarige dame en vier jong mense by die misdaad betrokke was.

Ons bid inderdaad vir ʼn dag waar die totale gemeenskap in Suid Afrika veilig sal wees. Tog kom die Godsvraag onwillekeurig by ʼn mens op.

Lasarus is reeds ʼn paar dae dood en sy liggaam is besig om te ontbind. Jesus het egter nie opgedaag toe Hy gehoor het dat Lasarus siek is nie en teen die tyd dat Hy wel by die gesin aankom is dit te laat.

Martha wys Hom tereg daarop dat sy afwesigheid bygedra het tot die dood van Lasarus. Omdat hulle weet waartoe Jesus in staat is en dat Hy mag oor lewe en dood het kon sy aanvaar dat Jesus Lasarus betyds sou genees. Dit het egter nie plaasgevind nie. Sy skroom nie om met Jesus daaroor in gesprek te tree  nie. Die trane lê vlak in haar oë en daar is iets verwytend aan haar stem. “Ons het U nodig gehad en U was nie hier nie. U het ons aan onsself oorgelaat en toe U wel opdaag was dit te laat”.

Ek sou dieselfde vraag vir Jesus wou vra. Here, as U hier was sou my broer nie gesterf het nie, sê Martha.

Jesus as U in Hartswater by daardie egpaar en hul dogter was sou die mense nie gesterf het nie.

Jesus help Martha (en ons)  om die groter werklikheid raak te sien. Dit is ʼn gebroke en deur die sonde geaffekteerde wêreld hierdie. Die uitwasse daarvan sien ons elke dag. Daar is egter die groter werklikheid van die ewige lewe. Wie daaraan deel het kan verby die onmiddellike, die traumatiese en ontstellende gebeure kyk.

Lasarus het weer gesterf. Ons bestaan op aarde is kortstondig en dikwels hartseer.

Die oorwinning staan egter seker en vas en wie in die finale dag opstaan sal nooit weer sterwe nie.

Glo jy dit vra Jesus vir Martha?

Glo jy dit vra Jesus vir my en jou?

No comments:

Post a Comment