Monday 28 September 2020

Wees onselfsugtig

Fil.2:2-11

1 Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing –

2 maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.

3 Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

4 Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.




Stel jouself vir ʼn oomblik voor dat die hele wêreld besluit om die gesag van God se Woord te erken en daarvolgens te lewe! Natuurlik is dit wensdenkery maar net terwille van die oefening laat jou verbeelding met jou op loop neem.

Oral bekeer mense hulle hulle tot God. Hulle bely hul sondes en bind sy vergiffenis aan hul harte. Hul gaan terug op hul spore en maak reg wat verbrou is.

Luk. 19:8 “Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

Huwelike herstel, die tronke loop leeg. Gebrokenes vind troos en soekendes vind antwoorde. Die kerk word weer vol en lofsange vul geboue. Huisgesinne vind mekaar en ouers en kinders leef in harmonie.

Ons teksvers : Niks word uit selfsug gedoen nie maar ander word in nederigheid gedien. Die belange van ander weeg ewe swaar en mense ontferm hulle oor die wat swaarkry.

Trouens met verloop van tyd word die agterstand van en by mense uitgewis en elkeen vind ʼn plekkie waar hy of sy volledig mens kan wees en roepingsvervulling kan beleef.

Sjoe, dit klink soos hemel op aarde. Dit klink te goed om waar te maak en dan weer.

Hoe verander gemeenskappe, gesinne, samelewingsverbande, groepe? Waarskynlik een persoon op ʼn slag. Maar eksponensiële groei beteken dat twee vier word en vier sestien as elkeen doen wat aan hulle gedoen is.

Droom ons nog van ʼn wêreld waarin die Koninkryk van God met krag inbreek en deurbreek of het ons so gewoond geraak aan die gebrokenheid, hartseer en onreg van hierdie wêreld dat ons onsself niks anders kan voorstel nie?

As ek die Bybel reg lees is dit in elk geval die plek en situasie waarheen ons op weg is. Daar kom ʼn dag dat Jesus op die wolke sal kom, die boeke geopen sal word en elke mense sal ontvang waarvoor hy homself beywer het. 1 KORINTIËRS 15:28

“Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles”.

Die heerskappy sal aan die Vader oorgegee word en God sal vir altyd by ons bly.

Die hemelse Jerusalem sal by ons kom woning maak en daar sal weer ewige ongestoorde en onveranderlike vrede heers.

Intussen doen ons wat ons kan.

Een wen nog een vir die Koninkryk.

Dis hoe God werk.

Tuesday 22 September 2020

By MA is ek veilig

 


Jes. 66:13

Soos 'n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel. Julle sal veilig voel in Jerusalem.


Wat ʼn uitsonderlike teks is hierdie nie! Wie kan nie met die liefde sorg omgee en sagtheid van ʼn moeder identifiseer nie?

Die eerste persoon met wie ʼn persoon verhouding bou is uiteraard ʼn mens se ma.

Dit is immers in haar dat die lewe wat volg op bevrugting begin groei en vorm aanneem.

Dit is by haar dat ʼn mens geborge en veilig voel terwyl sy jou oor ʼn tydperk van nege maande gereed maak vir die lewe soos ons dit ken.

Die Psalmdigter getuig van die wonderlike werk wat in die baarmoeder plaasvind, alles natuurlik onder God se sorgsame hand. Op ʼn ander plek getuig die digter eweneens van die troos en geborgenheid wat by ʼn moeder gevind word.

God is in Christus ons “moeder” al voel dit somtyds so effens snaaks om so aan Hom te dink. God se sagtheid en deernis oortref alles. Hy sorg en versorg en neem volle verantwoordelikheid vir elke mens totdat ons asof uit sy baarmoeder eenmaal in die volmaakte koninkryk aankom.

Ons is bevoorreg om nie alleen vier merkwaardige kinders, vier lieflike skoonkinders en tans vier kleinkinders te hê nie. Eersdaags word ons lewens verryk met nog twee outjies, ʼn seuntjie en ʼn dogtertjie. Beide mammas is reeds ver gevorder met die swangerskap en ek as pa kan sien dat dit iets van my dogters vra.

Desnieteenstaande is die vreugde van dit wat voorlê die groot motiveerder om aan te hou al voel ʼn mamma moeg, naar, buite proporsie en meestal net nie lekker nie. Die belofte is groter as die prys wat aan die swangerskap verbonde is.

God het in Christus Jesus sy lewe gegee sodat hierdie geboorte, die wedergeboorte, kon plaasvind. Sedertdien versorg Hy sy kinders getrou en begelei hulle tot geestelike volwassenheid. Hy is altyd daar en ongeag hoe onverskillig en ondankbaar sy kinders by tye is.

In my gesprekke met ouers maan ek altyd dat hulle kinders ongeag van hoe stukkend en gebroke dit ook al gaan, ʼn adres moet hê om na toe terug te keer. Ja, daar mag uitsonderings wees en ons is bekend met die konsep van “tough love”.

Ek het vriende wat al daardie pad met hul kinders moes stap.

Tog glo ek dat die ideaal is dat ʼn kind altyd weer aan die deur van sy ouer, veral sy moeder moet kan klop en vra om binne te kom.

Dit is hoe ons hemelse “moeder” oor ons voel en hoe sy haar teenoor ons gedra.

Miskien wil jy huis toe kom vandag.

Thursday 17 September 2020

Niks kan ons skei van sy liefde nie




Rom. 8


38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte

39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.


Somtyds wanneer ek na die nuus luister, veral wanneer dit grafies en lewensgetrou op die TV gebeeldsend word, raak ek benoud en angstig. Die veelheid van gebeurlikhede wat ʼn mens en gemeenskap kan oorkom, is ontstellend.

Ons is geseënd in Suid Afrika daarin dat ons relatief min hoor van siklone, tifone, oorstromings, modderstortings, aardbewegings, en ʼn hele klomp ander dinge wat daarmee verband hou. Die trauma wat mense wêreldwyd beleef is somtyds ondraagbaar net om na te kyk.

Om te sien hoe reddingswerkers deur die puin grawe opsoek na oorlewendes, gryp ʼn mens aan.

Al hierdie dinge word ons grootliks gespaar maar dit beteken die dat trauma en selfs tragedies nie op jou weg kan kom nie. Ons is soos die skape waarvan Rom. 8 praat.

Ons word daagliks bedreig en is ons lewens eintlik nie seker nie.

Ons kies maar om die onsekerheid wat aan die lewe verbonde is op die agtergrond te skuif of te maak asof dit nie bestaan nie. Dit is egter ʼn werklikheid wat ook ons lewens negatief en ingrypend kan impakteer.

Waar vind ʼn mens troos en sekuriteit wat jou koersvas laat volhou?

Uiteraard net in die Woord van die Here.

Dit is hier waar Rom. 8 besondere betekenis en troos inhou.

Ons sekerheid lê nie in die sigbare en tydlike nie. Dit is veranderlik en onseker.

Ons sekerheid berus in God en wat Hy belowe en wat Hy van ons sê.

“Niks” staan daar geskrywe. “Niks sal en kan ons skei van die liefde van God nie”.

Mag die woordjie “niks” jou vandag nuut opval.

In Christus is ons veilig, behoue.

Beskerm en veilig.

Die Beskermer van Israel sluimer en slaap nie. (Ps.121)

Hy hou wag.

Die Here is my Herder





1 'n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

2 Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.

3 Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.


Elke gelowige het ʼn teks of teksgedeelte wat besonder waardevol en betekenisvol is. Dit kom gewoonlik n.a.v. ʼn besondere gebeurtenis en konteks toe daardie vers of versgedeelte vir jou lewend geword het.

Uiteraard is die hele Woord lewend en kragtig. Die Bybel is duidelik daaroor. Ek dink egter nie die Here het ʼn probleem daarmee dan ʼn sekere gedeelte vir jou kosbaar is nie. Trouens, daar is waarskynlik meer sulke gedeeltes.

Ek wonder vir hoeveel van u wat hierdie reeks volg Ps. 23 besondere betekenis het? Waarskynlik baie mense.

Sommige verkies die Ou vertaling van die Bybel en ander is gemaklik met die meer dinamiese `83 vertaling. “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie” of “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie”.

Ons kan gemaklik identifiseer met ʼn landelike omgewing waar ʼn herder getrou ʼn waaksame oog hou oor skape wat ʼn maklike prooi is vir roofdiere. Skape kan hulself nie verdedig nie. Ek dink nie ek het al ooit ʼn skaap in ʼn geveg gesien nie. Skape is uiters kwesbaar en diep afhanklik.

Dit is die Herder se voorreg en verantwoordelikheid om na die skape se wel en wee om te dien.

In die Johannes Evangelie word die ware herder van die dagloner onderskei. Lg. is nie bereid om sy lewe op die spel te plaas vir die skape nie. As die gevaar dreig maak hy dat hy wegkom. Die skape moet maar self sien regkom.

Nie die goeie Herder nie. Hy lê sy lewe af vir die skape. Hy is getrou tot die dood toe. Hy lei hulle na waters waar daar rus is, groen weivelde waar hulle na hartelus kan wei.

Hy begelei hulle daagliks na die veilige hawe van die stal en gaan lê self in die opening sodat diewe en inbrekers nie naby kan kom nie.

In Christus is God ons goeie Herder.

Is jy gewillige en dankbare volgeling van die Herder?

Wednesday 16 September 2020

Dink anders, dink God




FILIPPENSE 4:8

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

 

Somtyds voel dit of ʼn mens soos wasgoed in ʼn outomatiese wasmasjien ingegooi is en al in die rondte gedraai word. Hier en daar verander die momentum maar uitkomkans is daar nie. Somtyds is die wasgoed wat in die masjien geplaas is verstrengel wanneer dit uitgehaal om opgehang of gedroog te word.

Dit neem tyd om dit uitmekaar te haal en verder te versorg.

Ons gedagtes raak ook so verstrengel. Dit gee aanleiding tot slapelose nagte, bekommernis, onaangename gedagte toertjies waaroor jy min beheer het.

Soos die draaibeweging van die wasproses draai jou gedagtes al meer en meer vas.

Iemand het gesê die grootste deel van ons gedagtes is herhalend en betekenisloos. Ons is vasgevang tussen gister en more en die oomblik, die hier en nou, die lewe, gaan by ons verby.

Dink vir ʼn oomblik na oor die dinge wat deur jou “kop” gaan.

Is dit gedagtes wat stig, opbou, bemoedig, perspektief gee,  gedagtes waarheen jy wil terugkeer, wat die lewe hanteerbaar maak, wat deernis het met  jou op weg wees of is dit ongenaakbare, onvriendelike en beskuldigende gedagtes?

Gedagtes wat met onvergewensgesindheid, selfverwyt, vooroordeel, agterdog en vrees te doen het.

Ek is daarvan oortuig dat jy, soos ek, ook hiermee sukkel.

Hoe ontkom ʼn  mens hierdie eindelose, negatiewe en  onophoudelike aktiwiteit wat iewers in jou brein plaasvind?

Ons is nie slawe van ons gedagtes nie.

Ons kan ons gedagtes onderwerp deur die krag van die Heilige Gees. Ons kan kies wat ons dink en wat ons akkommodeer in ons lewens.

Dit mag nuus wees maar dit is inderdaad so. Die Bybel gee vir ons ʼn handige en tydige voorstel.

Vestig jou gedagtes op die dinge daar bo, sê die teks. Jy doen dit bewustelik, duidelik en gedissiplineerd.

Jy bring jou eie deurmekaar gemoed tot rus en weier doodgewoon om die negatiewe te onthaal.

Jy haal eers diep asem, word bewus van jou eie menswees.

Jy fokus na binne, na stil word. Jy neem dadelik afskeid van die negatiewe. Jy kies ʼn frase of gedagte wat jou kan rig.

Jy sê vir jou self “wees stil en weet ek is die Heer” .(Ps.46:10)

Jy laat stukkies van die frase uit totdat dit nog net “wees” is wat oorbly.

Dan “wees” jy in God se teenwoordigheid.

As ʼn gedagte kom laat jy dit verby gaan.

Jy ontspan en gee God kans.

Begin vandag om jou negatiewe , veroordelende, afbrekende, onterende gedagtes gevange te neem.

Tuesday 15 September 2020

Ons almal het ʼn vervaldatum

 1 Kor. 15



Ons almal het ʼn vervaldatum


Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.



Gedurende hierdie Korona tyd het predikante en pastore dikwels die hartseer verantwoordelikheid om iemand wat vanweë Covid-19 gesterf het, te begrawe. Dit is buitegewoon traumaties om te verneem dat iemand na aan jou positief toets, veral as die persoon jy is.

Die onsekerheid wat aan hierdie siekte kleef kan ʼn mens waansinnig maak. So gebeur dit dan ook dat mense inderdaad sterf.

Hartseer familie lede, vriende en kollegas sit op ʼn afstand, ver van mekaar, maskers op die gesig, temperatuur vooraf gemeet, in die andersins leë kerkgebou.

Net enkeles word toegelaat om die geleentheid by te woon.

Die hartseer is tasbaar en snikke gaan vanuit die gehoor op.

Soos dit deesdae gebeur word ʼn elektroniese huldeblyk gelewer wat die lewensloop van daardie persoon in oënskou neem. Van kleintyd tot heel onlangs word die wel en wee van die persoon, die mense wie se lewe hy geraak het, die nalatenskap van die persoon, gevier.

Dit hoort ook so. Daar is geen fout mee te vind nie.

Na die verrigtinge gaan almal wat die geleentheid by gewoon het terug na die lewe. Die begrafnis verteenwoordig ʼn kort verposing tussen elke dag se besig wees. Nie lank nie en die hartseer raak op die agtergrond en ʼn mens word weer deel van die rotte resies, jou beste voorneme om dinge voortaan anders aan te pak, ten spyt.

Dan gebeur die volgende begrafnis en die hele proses herhaal homself.

Dit is maar hoe die lewe is. Daar is nie veel genade nie. Die lewe wag vir niemand nie.

Dit is ʼn stryd om te oorleef en elkeen moet doen wat gedoen moet word. Finansiële onafhanklikheid word nagestreef en voorsiening gemaak vir onseker tye.

Dit is alles in orde maar ʼn mens moet nie vergeet dat ook jy ʼn verstrykdatum het nie.

Eendag sal mense hartseer bymekaar kom van jou en my afskeid te neem.

Die gedagte is nie aangenaam nie en ek probeer nie daaraan dink nie. Dit beteken egter nie dat dit nie ʼn realiteit is nie. Dis die verloop van die lewe.

Leef so dat wanneer jy opgeroep word na hoër diens jy voorbereid is.