Friday 12 June 2020

Rook, my besluit, of nie?

Vrydag Nuus-perspektief.

Die delikate balans tussen die owerheid se verantwoordelikheid enersyds en burgers se individuele en gesamentlike regte en vryhede andersyds is op die spits gedryf met ʼn  hooggeregshof saak in Pretoria.
Uitspraak is voorbehou.



Die organisasie, “Fair Trade Independant Tobacco Accociation”, (FITA) voer aan dat die regulasies wat die verkoop van tabak en sigaretprodukte verbied ongrondwetlik en onhoudbaar is.
Die owerheid beroep hulself onder andere op sogenaamde wetenskaplike en mediese navorsing wat sou aandui dat mense wat rook meer vatbaar is vir die Covid-19 virus omdat lg. essensieel ʼn respiratoriese siekte is.

Wat ʼn mens onrustig maak is dat pres. Ramaphosa met die instelling van fase 4 die verkoop van sigarette en verwante produkte as toelaatbaar aangekondig het. Die blydskap by rokers was van korte duur omdat dit ongedaan gemaak is. Mense met ryke verbeelding lees ʼn hele aantal interessante teorieë daarin. Na alles, die geagte minister verantwoordelik vir die uitvoering van inperkingsmaatreels, dr Nkosazana Dlamini-Zuma,  laat haar nie maklik van stryk bring nie.

Sedertdien is die handel in sodanige produkte steeds taboe.

Die duiselingwekkende bedrae geld wat die owerheid aan belasting en ander inkomste verloor en die steeds groeiende sluikhandel in sigarette, kwel ʼn mens. Mense het nie ophou rook nie en betaal buitensporige bedrae vir die plesiertjie. In sommige gevalle soos met psigiatriese pasiënte is rook terapeuties en die mense kry baie swaar. Opsommend dus het mense nie ophou rook nie en stop hul pyp selfs met rooibostee.

Suid Afrika se inperkings is van die strengste ter wêreld en die rookverbod is in min  lande toegepas. So hoe gemaak met mense se regte vanuit ʼn Christelike verstaan en vertrekpunt?
Ons bekyk die saak van twee kante.

Eerstens kan daar geen twyfel wees dat rook vir baie  ʼn irriterende aangeleentheid is nie. Dat dit nie bydrae tot  goeie gesondheid nie staan ook soos ʼn paal bo water. Verslawing in watter gedaante ook al  is ook nie God se beste vir ons nie. Ons is immers tempel van die Heilige Gees en wil in alles die inwonende Gees laat tuis voel. Dit aan die een kant.
Daar is ook iets soos passiewe rook wat ʼn invloed op onskuldige mense kan hê.

Ons word egter uit genade gered op grond van die volmaakte werk van Jesus aan Golgota`s heuwel. Daar het hy ʼn suksesvolle versoening bewerk en ons losgekoop van die slawerny van die sonde.

Sommige  wil graag sonde aan dinge wat ʼn mens doen of nie doen nie vasmaak en iets daarvan mag waar wees. Sonde egter is rebellie teen God, dit beteken om God se aanspraak op my lewe willens en wetens te ontken en te bly ontken, om die Hand van liefde wat na my uitgesteek is berekend weg te klap, om in die bekende woorde van die Onse Vader eerder te bid, “laat my naam verheerlik word, laat my wil geskied en laat my koninkryk kom”.

Waar bring dit ons met betrekking tot die aanvanklike vraagstelling nl. of die owerheid mense se vryheid, in hierdie geval om te rook of nie te rook nie, summier mag inperk.

My verstaan is dat die individuele vryheid van mense ʼn skeppingsverordening is, dit is inderdaad deel van ons beelddraende identiteit. Indien ons optrede ander mense se welwese grondiglik beïnvloed is dit totaal iets anders. Om egter iets so persoonlik soos rook met ʼn agenda wat effens verdag voorkom aan bande te probeer lê, is nie in orde nie.

Die owerheid het ʼn verantwoordelikheid. Waar hulle daarmee besig is, is ons opreg dankbaar. Daar is baie voorbeelde van opregte besorgdheid oor die gesondheid van die publiek.
Om egter te besluit dit is tyd dat mense ophou rook omdat dit ongesond is, is voorbarig en ongrondwetlik.

Ek is my eie mens. Dit is deel van die verantwoordelikheid wat die Vader aan elke individu gee.

Die lied wat nog altyd vir my besondere bekoring gehad het, verwys die legendariese Frank Sinatra

My way

Die tweede strofe lui -

I`ve loved, laughed and cried
I`ve had my fill my share of loosing
And now as tears subside, I find it all so amusing
To think, I did all that, and may I say not in a shy way
On no, o no not me
I did it my way.

For what is a  man, what has he got
If not himself, then he has not
To say the things, he truly feels
And not the words, of one who kneels
The record show, I took the blows
But I did it my way.

Mag “His way” en “my way” toenemend dieselfde wees.

Dit is heiligmaking.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment