Tuesday 9 June 2020

As die Leeu brul


Amos 3:8 Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie.



Die besondere vers staan binne ontstellende verband in hierdie profetiese boek. Die hoofstuk begin met die woorde “Luister na die woord wat die Here teen julle rig, Israeliete”. Om God as jou Beskermer, Trooster, Voorsiener en Leidsman te ken en te beleef, is ʼn wonderlike genadegawe.

Benewens die feit dat ons as mense daar niks van verdien of kan verdien nie kom ʼn mens te staan voor die misterie van God se uitverkiesende genade.

“Waarom ek Here?”, is die vraag wat by ʼn mens opkom. God is genadig en goed en ons is buitegewoon dankbaar daaroor.

Israel het dieselfde rede tot dankbaarheid gehad. God het hulle uit al die volke van die destyds bekende wêreld gekies om sy heilshandelinge aan die wêreld bekend te maak. Hy het vir hulle op buitegewone maniere gesorg van die dag dat hulle hul voete uit Egipte gesit het. Te midde van opstand en onvergenoegdheid het God telkens vergewe en ʼn nuwe begin gemaak. Dan kom daar ʼn dag dat die Here sê, “dit is nou genoeg”.

Die God wat ons as lankmoedig en verdraagsaam ken sê, “dit is nou genoeg”. Hy praat in geen onseker terme oor hoe Israel se ondankbaarheid en doodsheid Hom grief nie.

Hoofstuk 2 verwys na brute ongeregtigheid wat gepleeg word teenoor die weerloses in die samelewing. “ Hulle trap swakkes se koppe plat in die grond en verontreg die wat hulself nie kan verweer nie”

God is die God van die weduwees en die wese. Hy hoor wanneer hulle roep, ʼn brose gebroke hart kan Hy nie weerstaan nie. Hy praat hard en duidelik met sy volk. Hy praat soos ʼn leeu brul. Dit laat ʼn mens se bloed stol. Die gevaar is naby. In die volgende hoofstuk die verwyt, “te midde van hongersnood en broodsgebrek het julle julle nie tot my bekeer nie”, sê die Here.

Ai, mag ons die geduld van God nie beproef deur hardnekkige en volhardende ongehoorsaamheid nie.
Dit is vandag nog die dag van redding en genade.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment