Wednesday 17 June 2020

Waarlik een

Fil. 2:2  
Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.



Paulus se oproep tot eensgesindheid in en onder die gemeente van Christus kom nie in ʼn lugleegte nie. Dit word sterk gemotiveer en groei as’t ware uit dit wat God in Christus gegee en gedoen het en dit wat Christene en gemeentes aan eie lyf gevoel en beleef het. Die troos van Christus, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees , die innige gevoel en meelewing.

Die Boodskap vertaal dit so:
1As julle Christenskap vir julle enigiets beteken; as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het; as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het; as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee, wil ek julle ’n groot guns vra.
2 Moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie. Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my regtig baie bly maak.

Paulus stapel die gedagtes en motivering op mekaar -

As julle Christenskap vir julle enigiets beteken, moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie, voel saam, streef saam, doen saam
As julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het, moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie, voel saam, streef saam, doen saam
As die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het, moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie, voel saam, streef saam, doen saam
Die innige meegevoel en meelewing verwys,  moenie gedurig met mekaar stry en baklei nie, voel saam, streef saam, doen saam

Die kerk het ongelukkig die streek dat hy of sy gedurig aan`t strye is. Daarmee sê ek nie dat daar nie verskil van mening mag wees nie. Dit lê op die weg van menswees dat ons dikwels verskillende benaderings tot ʼn saak het en van mekaar verskil. Ons mag verskillende interpretasies hê oor sekere Skrifwaarhede en selfs ernstig voel daaroor. Inderdaad. Ons is ook in Paulus se woorde beskermers van die waarheid. 1 Tim 3:15.. Maar ʼn eindelose gestry oor dinge wat meestal met die hart van die Evangelie min te doen het strek die Here nie tot eer nie. Dit geld ook vir die verkeer tussen individuele Christene.

Dalk het Covid 19 ʼn ander gesindheid gebring.
Ons was nog goed aan die stry tot net voor die virus ons getref het.
Dalk het ons nou ʼn bietjie grootgeword.




Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment