Monday 29 June 2020

God liefhê met alles?

God liefhê met alles?
Kan ek?

Markus 12:29-30

Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. 
Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.

“Jou hele hart, hele siel, hele verstand en al jou krag” staan daar. Die beskrywende woord wat niks uitlaat nie maar alles insluit val my ontstellend op.



Ek wil vra, hoe kry ek dit reg Here?
My hele wese moet met U in ʼn liefdesverhouding staan waarin niks en niemand U plek in my lewe inneem nie.
Alles, maar alles vir U.
Dan wonder ek of ek die vers ietwat anders kan skryf – so uit die mond van die Vader.
Dan lui dit “: Ek het jou lief met My hele hart en met My hele siel en met My hele verstand en met al My krag”
Dit is tog ʼn raakbeskrywing van hoe lief my het. Niks is by hierdie liefdesverklaring uitgesluit nie. Die volledigheid en omvattendheid daarvan word juis aan die kruis van Golgota gedemonstreer. Volledig ontledig, totale prysgawe, onvoorwaardelike liefdes offer.
God vra dus nie iets wat Hy nie self gee nie. Hy verstaan ook my reserwe en voorbehoud wanneer ek wonder of ek so Hom so lief kan hê.
Immers, ek ken myself, my swakhede, my verbreekte beloftes, my goeie voornemens ten spyt.
God verstaan, gee om en is lankmoedig en geduldig met elkeen van ons.
Ons begin deur in die klein dingetjies, ons daaglikse handel en wandel, ons kom en gaan te groei in ons liefde vir Hom.
Liefde vir God is nie ʼn feeverhaal nie maar ʼn konkrete betrokkenheid by die mense vir wie God na sy beeld en gelykenis gemaak het.
My taak en roeping, joune ook, is om vir hulle te vertel van hierdie groot liefde, omvangryk en insluitend, verbondsliefde sodat hulle hul reis in God lief hê kan begin.




Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment