Friday 26 June 2020

God het JOU lief

Efes.3:18-19


18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.


Paulus is effe onrealisties met dit wat hy die gemeente toebid en toewens, met respek gesê. Luister saam met my wat dit is wat Paulus die gemeente toewens :

“Mag julle in staat wees om te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep God se liefde strek”.

Wie kan dit verstaan?

Hy vra verder dat die gemeente in staat sal wees om die liefde van God te ken en dan vervolg hy, liefde wat die verstand te bowe gaan.

Nou hoe kan Paulus ʼn mens inderdaad vra om te begryp. Om die onverstaanbare te verstaan en die onbegryplike te begryp.

Ondenkbaar, wonderlik, misterieus, aangrypend.

Alhoewel ons die omvang van God se liefde nooit, ten minste nie in hierdie lewe kan of sal begryp nie, het ons as gelowiges darem iets daarvan beleef en beleef ons dit steeds op ʼn daaglikse basis.

Wie kan ooit aandring op die liefde van God, wie kan daarop aanspraak maak?

Nee, juis daarom word God se handelinge met ons as genade beskryf.

Hy is buitegewoon liefdevol en genadig.

Net weer die teksverse en mag dit jou vandag troos en bemoedig

Efes.3

18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment