Tuesday 12 May 2020

Uitbundig soos kalwers

Simbole van genade

MALEÁGI 4:2
Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. ( 53OV)



Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers. (83 NV)

Die wintersonnetjie ( is dit amptelik al winter, voel vir my so) skyn heerlik vanoggend. Die windjie is skraal en herinner my dat koue weer ons voorland is. Ek soek ʼn plek waar ek genoeg vitamiene D bymekaar kan maak om my vandag deur te sien. Ek is dankbaar vir die son.
Die Bybel in Maleagi praat van die son van geregtigheid met genesing in sy strale. Dit laat ʼn mens bokspring soos die kalwers. Dit is darem mooi taal, geloofstaal, vertrouenstaal en hartstaal.
Sonder die genesing wat die son van geregtigheid in ons lewens bring was ons steeds verlore in ons sonde. Van diepgesetelde vreugde, die waarvan Paulus in Filippense 4:4 praat ( verbly jou in die Heer) is daar nie sprake nie. Jy gryp na strooihalms wat die wêreld na jou kant toe swaai maar die vreugde is kortstondig en onvolmaak. Hoe meer jy smag na vreugde, vervulling en betekenis hoe meer raak jy ontnugter, ontevrede en voos. Die dinge van die wêreld is arm aan betekenis. Dit bou op dryfsand en kan die storms van die lewe nie akkommodeer nie. Die kitsresepte van die dag gee geen blywende oplossings nie. Jy voel ontnugter en hartseer maar omdat jy nie weet van die son van geregtigheid nie of te trots is om jou afhanklikheid te erken ploeter jy onvervuld en gebroke voort.
So dom né, dat ek en jy dink dat die wêreld blywende vrede kan gee, God kan vervang en ware betekenis kan gee aan ons lewens.
Dalk is jy ook vandag ontnugter. Dalk weet jy van iemand wat teen die grond is en vir wie jy hierdie boodskappie wil aanstuur. Nie omdat jy beter is, hoogmoedig of arrogant wil voorkom nie maar omdat jy ook eens op ʼn tyd op die verkeerde plek na genade gesoek het. Almal smag na genade maar die meeste soek op die verkeerde plek. Vir die Samaritaanse vrou se Jesus, “as jy geweet het Wie dit is wat met jou praat en wat Hy gee sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het”. (Joh.4:10)
Kom almal wat dors is lui die uitnodiging in Jesaja. (Jes.55:1)
“Dankie Here dat U die son van geregtigheid, waarheid, vryspraak, lewe en betekenis is.
Skyn in my lewe.
Vul my met krag dat ek baldadig kan bokspring soos die kalwers”.
2Maar vir dié van julle wat My liefhet en aan My gehoorsaam is, sal my verlossing soos die son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word dit vinnig gesond. So sal Ek die nuwe lewe oor julle laat kom. Dan sal julle soos opgewonde kinders wees wat ’n nuwe geskenk kry. Julle sal nie kan wag om vir almal daarvan te vertel nie. (Boodskap vertaling)



Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment