Monday 11 May 2020

Simbole van genade

As ʼn mens rondom jou kyk is daar soveel wat jou aan die guns, beskerming, omgee, liefde en genade van God herinner. Ek kuier graag saam met jou oor hierdie onderwerp en sal bly wees as jy dink jy wil dit met iemand anders deel.

Ons het ʼn waterfontein in die tuin en ek moet so een keer ʼn maand ʼn drywende houer met chloor daarin plaas om die alge en goggas uit te hou. Die water is deursigtig skoon en ʼn absolute plesier om na te kyk. Vanoggend let ek daarop dat die chloorhouer op sy sy in die water ronddryf. Dit is ʼn aanduiding dat die chloorkristalle daarin heeltemal opgelos het en dat die houer leeg is.



As ek die wekroep na chloorbehandeling ignoreer sal die water met verdrag begin verkleur. Dit sal nie aanvanklik lyk of enige iets fout is nie maar ʼn paar dae verder het die alge groen en bruin en onooglik begin aanpak. Die water begin troebel vertoon en die bodem is onsigbaar. Teen die tyd dat ek die moed bymekaar geskraap het om in die ry (Covid-19) te gaan staan ten einde ʼn nuwe houer chloor aan te skaf, is die fontein alles behalwe aangenaam om na te kyk.

Iets daarvan is waar van ons geestelike lewens. Die Bybel sê ons is die sout en die lig van die aarde. In oordragtelike sin kan ʼn mens seker sê ons is die chloor van die aarde. Ons roeping is om die kwaad tee te werk en die wêreld na sy oorspronklike bedoeling te laat herstel. Dit doen ons met die krag en die hulp van die Heilige Gees wat ons bemagtig en toerus vir die taak.

Ten einde gevul te wees met Goddelike teenwoordigheid moet ons erns maak met ons geestelike lewens. Tyd saam en by die Here, in sy Woord, in gebed en in interaksie met medegelowiges is onontbeerlik. Op ʼn dag “dryf jy op jou sy” te midde van vele uitdagings rond, sonder die nodige stukrag en invloed om die wêreld te impakteer.

Die agteruitgang kom boonop gestadig, dit gebeur nie oornag nie. Verwaarlosing van jou verhouding met God lewer egter op die lang duur wrang vrugte. Jy verloor jou vermoë om ʼn verskil te maak.

Niks wat ek hier skryf is bedoel om skuld uit te deel nie, trouens ek bevind myself dikwels op daardie plek. Dit is ʼn daaglikse keuse om geanker te bly, nie toe te laat dat die lewe wat onteenseglik voortgaan en gebeur, jou ontwrig nie. Bly naby Hom.

Nader my God by U

Steeds naderby.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment