Thursday 28 May 2020

Pinkster 2020

 Dit is inderdaad ʼn baie groot voorreg om vanoggend ʼn perspektief op nuusgebeure te waag wetende dat dit maar menslike oordeel is en dat ons beperk is in ons verstaan van die werklikheid.

Daar is egter ʼn paar merkers wat en graag ter aanvang wil onderstreep .
Het julle agtergekom dat die hele kerklike siklus gedurende die Covid-19 tydperk gedenk en gevier is?



Covid-19 het aan die einde van verlede jaar sy verskyning in Wuhan provinsie in China gemaak en bykans onmiddellik die hele wêreld op hol gehad. Gedurende Desember het ons die geboorte van Jesus gevier, Kersfees soos dit allerweë bekend is. Omdat Covid-19 maande gaan neem om uit te woed sal ons waarskynlik met die volgende kersviering die impak daarvan beleef.

Rofweg aan die begin van Maart vanjaar het ons eie tyd van inperking en huisarres  begin. In die tyd het ons beide Paasfees, tw. die kruisiging, dood en ook die opstanding van Jesus gevier het.

Enkele dae gelede Hemelvaart en komende Sondag Pinksterfees, die vervulling van die belofte in Handelinge 1:8 “Julle sal krag ontvang wanneer Die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees”.

As ek dit reg het het ons dus al die belangrike momente op die kerkkalender beleef, alles binne die konteks van hierdie wêreldwye, pynlike gebeure.

Tans lewe ons in Koninkrykstyd en dink ons na oor hoe al hierdie belangrike momente uitspeel in die koms van God se Koninkryk op aarde.
Immers, dit is ons taakbeskrywing nie waar nie nl. dat Sy Koninkryk sal kom. Ons bid dit dan in die bekende Ons Vader gebed  “Laat U Koninkryk kom”.

Hoe kom die Koninkryk in ons konteks?

Sonder die momente Kersfees, Paasfees, Hemelvaart, Pinkster sou ons nie met die taak kon besig wees nie. Nou gebeur dit binne ʼn bepaalde konkrete werklikheid, ongekend aan enige iets wat ons wat lewe al ooit beleef het, Covid-19.

In besondere sin kan ons en het ons gevra wat die menswording, sy lewe en getuienis en optrede, sy kruisdood en opstanding, sy hemelvaart en nou in besonder die uitstorting van die Heilige Gees, met ons konteks te doen het. Die antwoord uiteraard vir ons as gelowiges, dit het alles met ons konteks te doen.

God is nie afwesig nie, al is dit somtyds moeilik om te verstaan hoe Hy by en met ons teenwoordig is.
Immanuel beteken immers, God met ons.

Waar fees gevier word is God en waar mense begrafnis hou is Hy eweneens.
Waar daar genoeg is om te eet is Hy en ook waar mense nie weet waar die volgende bord kos vandaan kom nie.

God is oral, altyd, teenwoordig.
Die vraag is hoe is God teenwoordig?

Uiteraard onsigbaar deur sy Gees, besig met sy werk van vertroosting en bemoediging soos net Hy dit kan doen. Immers die Heilige Gees is ons Trooster.

God is egter ook sigbaar, tasbaar teenwoordig waar die kerk, sy Liggaam,  deur sy lidmate opdaag om die hande en voete van Jesus te wees. Daardie taak kan hulle net volvoer wanneer hulle in die woorde van die bergpredikasie hulself met die pleidooie van minderbevoorregtes identifiseer en opdaag.

Almal daag nie op dieselfde wyse op nie. Almal se vermoëns en omstandighede is nie dieselfde nie maar elkeen, elke Gees geïnspireerde Christen wat die dood en opstanding en ook die Gees van Jesus in sy eie lyf dra, kan opdaag.
So daag Jesus op, fisies, tasbaar, lyflik, empaties en versorgend.

Covid-19 gaan nog geruime tyd met ons wees, so waarsku die wetenskaplikes ons. Ons wêreld gaan en het reeds in groot mate verander so praat die mense wat weet en so beleef ons dit aan eie lyf.

Aanstons sal ons na die volgende vlak van inperking tw. vlak 3 beweeg. Baie mense sal teruggaan werk toe. Bewegingsvryheid is nog ʼn uitdaging maar ʼn mens sal  darem enige tyd kan oefen. Deel van die toegewings wat gemaak is is dat die kerk, die geloofsgemeenskappe in Suid Afrika weer bymekaar kan kom, weliswaar nie meer as 50 mense op ʼn slag nie. Dit gaan verantwoordelike optrede, dissipline en opoffering vra. Mag die Here ons bewaar.

Ook skole en universiteite verwelkom sekere studente. Alles word skoongemaak en in gereedheid gebring vir die belangrike gebeure.

Komende Sondag is ʼn nasionale dag van gebed. Dit is baie betekenis vol dat ons staatspresident die dag aangekondig het. Dit is geskiedkundig dat in ons tyd van ʼn demokratiese bestel ʼn staatshoof die volk vra om te bid.
God verhoor gebede anders was ons nie gelowiges nie.

Intussen gaan die werk van agente van verandering onverpoosd voort. Dit is so ʼn voorreg om deel te wees van God se familie. Die Goeie Nuus kan nie ingeperk word nie. Dit is steeds die aangename tyd en die Woord moet uit solank dit dag is. Die nag kom, sê die Bybel, wanneer niemand kan werk nie.

Om mee af te sluit

Ek het verwys na al die groot momente van ons geloofslewe wat in die maande wat Covid-19 ons lewens kom ontwrig het gevier en in herinnering geroep is. Daar is een saak wat steeds uitstaande is en dit sal die verlossingswerk van Christus volledig afrond. Ek verwys na die wederkoms.

Die Bybel sê, beywer julle vir die wederkoms, (2 Petrus 3:11), leef in die verwagting dat Jesus weer kom. Ja, die uur van sy verskyning is onbekend maar die feit daarvan staan vas. Mag ons elke dag wakker word en lewe met die verwagting, miskien vandag.
Miskien vandag.
Perhaps today.
Today is Friday but, Sunday is coming!!

No more crying there we are going to see the King
No more starving there we are going to see the King
No more dying there we are going to see the King
Halleluja Halleluja we are going to see the King.

Halleluja Halleluja we are going to see the King.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment