Friday 29 May 2020

Pinkster-Liefde.

ROMEINE 15:30
Ek versoek julle dan dringend, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom: Stry saam met my deur vir my te bid



Daar word baie gepraat oor liefde maar relatief min gesien van liefde. Nie in ʼn land van armoede, pyn en ellende nie. Nie in ʼn land waar duisende in die ry val om ʼn kospakkie te kry nie. Nie in ʼn land waar 18 miljoen mense sorgbehoewend is nie. Nie waar kinders honger gaan slaap nie. Toegegee, gedurende hierdie Covid-19 besoeking het ons merkwaardige verhale en voorbeelde van offervaardigheid gesien.

Dit gryp ʼn mens in die hart dat soveel mense van verskeie agtergronde gee en gegee het. Hulle gee nie net in fisiese middele nie. Hulle gee deur hul lewens af te lê terwille van ander. Menige gesondheidswerker, noodpersoneellid, kassiere en polisie beampte het al met hul eie lewens betaal net omdat hulle omgegee het.
Die Pinkster liefdesvlam het hoog gebrand in hulle lewens. Hul getuienis loop hul vooruit.

Maar ons durf nie vergeet nie. Covid-19 het die ontstellende omvang van nood grafies na ons gebring. Koerante berig daaroor, die TV gee gesig daaraan. Die owerheid praat daaroor, sommige filosofeer daaroor maar meer is nodig.

Liefde kan nie vrede maak met die gebrokenheid van ons wêreld nie, nie Pinkster liefde nie. Liefde oordeel en redeneer nie dat die gebrokenheid nou maar eenmaal deel van ons bestaan is nie. Dit maak nie vrede met ander mense se swaarkry nie. Dit strewe na ʼn beter more waar almal genoeg het.
Dit mag soos ʼn hersenskim klink maar die bly die mikpunt. Dit is niks anders as Die Koninkryk van God onder in en rondom ons nie.

Liefde vat nie wat vir ander bestem is en gebruik dit self nie. Liefde onderhandel nie onder die tafel nie. Liefde is eerlik en opreg.

Pinkster liefde. Dis bonatuurlik, dis Goddelik.
Paulus se lied op die liefde konfronteer ons met alles wat die liefde nie is nie naas alles wat die liefde dan tog wel is.

Ons dilemma is dat ons die teenoorgestelde by ons sien. Die verkeerde kom natuurlik, die regte is onnatuurlik. Uiteraard. Dit kan nie in mense krag gedoen word nie. Ons het die Gees nodig, die Pinkster Gees, die Liefdes Gees, die omgee en uitreik Gees nodig.

Mag dit Pinkster word in ons harte en lewens.



Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment