Wednesday 27 May 2020

Woensdag - Pinkster-Hoop.

ROMEINE 5:5

en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.


Ons gesels oor Pinkster, maar nie sommer enige Pinkster nie. Ja Pinkster as gebeure het destyds, toentertyd, ver terug in die geskiedenis plaasgevind toe die Gees van die Here in krag op die versamelde dissipels neergedaal het. Tonge van vuur en ʼn geweldige rukwind het met die bemagtiging gepaard gegaan. Die omstanders was stomgeslaan. Nog nooit het hulle so iets beleef nie. Boonop word die Evangelie vreesloos en meedoënloos, luidkeels verkondig.

Die eens beskeie Petrus tree met vuur en ywer op. Hy huiwer nie maar spreek die Waarheid soos mense dit lank laas gehoor het.

“Dit is tog eenvoudige mense die”, dink die mense by hulle self. “Vanwaar die vrymoedigheid”?

Daarbenewens is Petrus onbeskaamd as hy die volk wys op die gruwelike vergrype aan die Seun van God. “God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het Here gemaak. In sy Naam is daar verlossing en nuwe lewe”.

Die mense hoor die Woord in hul eie taal. ʼn Hoor en verkondigingswonder vind plaas. Die Gees is internasionaal, globaal, wêreldwyd, praat elke taal onder die son.

Die Gees is verstaanbaar, die Woord gryp mense in hul harte, 3000 kom tot bekering.

“Wat moet ons doen om gered te word?”, roep hulle.

“Glo en julle sal gered word”, kom die antwoord helder en duidelik.

Dis dieselfde boodskap. Dit het nog nooit verander nie, die eeue wat verbygegaan het ten spyt. Dit wek hoop in mense se harte. Die hoop op ʼn beter toekoms. Die deurbreek van die Koninkryk. Die hemel wat wag.

Maar veel, veel, veel meer as dit. Die hoop op ʼn beter vandag, ʼn beter nou, ʼn beter hier.

Pinkster is nie vir die hemel gegee nie, Pinkster is vir die aarde geoormerk.

Pinkster is uitgegiet. God wat Homself soos olie kom uitgiet in die harte en lewens van mense.

Pinkster 2020.

Covid-19 Pinkster.

Hier en nou Pinkster.

Is jy moedeloos, troosteloos, angsbevange. Nee, duisend maal nee, in die Naam van die Pinkstergees, nee.

God is steeds hier.

Skep moed, hoop en lewe.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment