Monday 4 May 2020

ʼn Grendel mentaliteit

Rian Malan sluit ʼn artikel wat deur hom geskryf is af met die woorde, “kom ons hef die inperking op en gaan aan met ons lewens”.

My bedoeling is nie om sy artikel te bespreek nie ( lees maar self op Netwerk 24 onder die opskrif, “Ons wag op die virus”, Rapport, 3 Mei) maar om aan te sluit by die laaste gedagte daarin vervat.
Ek wil graag saam met julle nadink oor ʼn mentaliteit van ingeperk wees.



Toe ek verlede week (saai Woensdae 1100 lewendig uit vanaf Radio Kansel in Pretoria) na die ateljee reis was ek effens uit my diepte. Dit is asof die inperking kom nes skop het hier by my en dat die “buitewêreld” met sy dinamiese tempo, sy verwagtinge, verantwoordelikhede en werkslading bedreigend voorkom.
Die gemak en veilige sekuriteit van ʼn eie woonplek word gou ʼn mens se gemaksone. Die enigste verskil tussen ʼn groef en ʼn graf is die diepte, word gesê. Ons moet oppas dat die groef nie ʼn graf word nie.
Werk, inhoud gee aan jou roeping, passievol te leef en ʼn verskil  maak is nie alleen ʼn Goddelike opdrag nie maar ook ʼn voorreg.

ʼn Gebrek aan bewegingsvryheid word  ʼn maklike wegkruipplek. “Ek kan nie uitkom nie en daarom kan ek nie ʼn verskil maak nie”.

Ons moet daarteen waak.

Daar is ʼn wêreld buite die vier mure van ons ingeperkte bestaan wat wag op hulp.
Die hulp lê op die terrein van elkeen van ons se gawes en talente.
Ons moet weet waarvoor die Here ons roep en daarmee besig bly.
Hoe diep het die inperking in jou menswees kom insny?

Voel jy ook effens bedrieg in die wete dat die lewe aangaan en nie stilstaan nie?
Het jy ook nodig om van die grendel mentaliteit ontslae te raak en vandag reeds inhoud te begin gee aan waarvoor die Here jou bestaan op aarde bestem het?
Mag jy leiding en krag ontvang.


Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment