Tuesday 5 May 2020

Covid frustrasie

Is dit net ek of bespeur ek ietwat van ʼn frustrasie met die status quo vanoggend?
Die tyd word lank, ons kinders en kleinkinders alhoewel naby, is ver, ons verlang na warmte, interpersoonlikheid, raak, omhels en deel.

Met absolute begrip daarvoor loop ons soos gemaskerde idees rond wanneer ons dit wel op straat waag.
Die vraag is of ʼn mens maar gefrustreerd kan raak en indien wel, wat jy daarmee moet doen?
Mense is nie masjiene wat gevoelloos geprogrammeer kan word nie. Ons is beelddraers van die lewende God en emosie is deel van Sy skeppingshandeling. Jesus het self ietwat gefrustreerd geraak met die onwilligheid van die Skrifgeleerdes en Fariseërs om hul mense na behore te versorg. Rituele en veruiterlikte godsdiens moes plek maak vir verhouding, hartsverbondenheid en liefde. Jesus beskryf hulle as witgepleisterde grafte, vol doodsbeendere.



Dit is in orde om onrustig, gefrustreerd en geïrriteerd te wees met ʼn situasie. Die vraag is egter wat jy met daardie energie doen.

As dit aangewend word om die lewe vir die mense rondom jou moeilik en selfs onhoudbaar te maak is dit selfsugtig en onvolwasse. Die aangewese weg is om teenoor jouself te erken wat jy beleef en dan vriendelik daarvan afskeid te neem as dit nie bydra tot probleemoplossing nie.

In die plek van opruiende frustrasie kan die energie aangewend word in kreatiwiteit en diens aan jou medemens.
Baie ander mense beleef eensaamheid, hartseer en ʼn magdom van seer emosies.
Hoe kan ons positief bydrae om hul ongemak ietwat ligter te maak?

Gefrustreerdes kan teenoor dit mekaar bely en mekaar help om perspektief in die situasie te kry.
Feit van die saak is dat die owerhede tans reken dat, teen die agtergrond van internasionale navorsing en ondersoek fase 4 tans die aangewese manier is om die verspreiding van die Korona virus te keer. Vet weet, ek wil nie omdat ek gefrustreerd was die rede wees dat baie mense in kwarantyn moet gaan, selfs siek word of nog erger, sterf nie.

Ons lewe deur die Gees, leer Paulus ons, laat die Gees dan nou ook ons gedrag bepaal. (Gal.5)
Sterkte aan al die onrustige en gefrustreerdes vandag. Sit jou emosionele intelligensie aan die werk, soek ʼn ander pad breinlangs om die energie te kanaliseer en slaan die duiwel ʼn kishou.
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat vir my die krag gee”.
Amen en amen.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment