Thursday 30 April 2020

Post Covid 19

Master Jack

Four Jacks and a Jill

It's a strange, strange world we live in, Master Jack
You taught me all I know and I'll never look back
It's a very strange world and I thank you, Master Jack

Die Korona virus het hom so tuis kom maak in die wêreldgeskiedenis dat daar verwys word na ʼn post Covid 19 wêreld. Media is daarvan vol dat die wêreld nooit weer dieselfde kan wees nie. Ander terme wat gebruik word sluit die nuwe normaal in.

Mnr. Ramaphosa wys daarop dat die totale samelewing herdefinieer moet word. Daar word ook van re-invent gepraat in die literatuur.



Mens hoor wonderlike verhale van besighede wat hul stelselmatig herposisioneer in die Suid Afrikaanse konteks. Geloofsgemeenskappe het die krag van die elektroniese media ontdek en ʼn nuwe era in die versorging van lidmate se geestelike behoeftes ingelui. Sport geleenthede word in die ruimte aangebied, wedstryde gespeel sonder ʼn enkele ondersteuner op die pawiljoen. Virtuele wedstryde word aangebied en wenners en verloorders word aangewys. Skole heropen iewers in die volgende dae of weke. Die uitdagings waarmee onderwysers, beheerrade, ouers en kinders te doen gaan hê is duiselingwekkend.

Covid-19 het ons op ʼn paar belangrike dinge gewys.

Ons interafhanklikheid en wêreldwye konneksie met mekaar.
Kokonbestaan is vreemd aan so ʼn wêreld. Globaal het nuwe betekenis gekry.

Ons broosheid as mense.
Meer as 100000 mense het reeds aan die virus gesterf en die dodetal neem steeds toe. Ook in Suid Afrika word hospitale, maar ook begraafplase gereed gemaak om die honderde mense wat mag siek word en selfs sterf, te akkommodeer. Dit ontsenu ʼn mens ietwat, die gedagte dat voorsien word dat baie mense aan hierdie pandemie mag omkom.

Die wêreld is onseker en baie mense beleef angs.
Daar word selfs gepraat van ʼn tweede rondte Covid 19 wat kan rondgaan. Dit is ook nie seker of iemand wat Covid 19 onder lede gehad het genoegsame weerstand en immuniteit opgebou het om nie weer siek te word nie.

Ou modelle is uitgedien.
Antwoorde wat voorheen bevredig het wankel nou soos gras in die wind. .  Oral word desperaat gesoek na ʼn model wat tegelykertyd die ekonomie aan die gang kry sonder om die infeksies te verhoog. Maskers, handskoene, sosiale afstand, tuiswerk, handreinigers, ja, selfs ʼn aandklok reël is in plek.

Die ontstellende omvang van armoede en agtergeblewendheid in Suid Afrika.
Die wyse waarop uitgereik word na medemense is merkwaardig. Maar mense kan nie ad infinitum arm, honger en dors bly nie. Daar moet ʼn ontsnappingsroete in plek gebring word wat ʼn volgende generasie bemagtig en toelaat om tenminste ʼn middelklas bestaan te maak. Dit noodsaak  ʼn offervaardige lewenshouding by mense wat dit kan bybring.  

Die belang van eenvoud en egtheid.  
Geen geld kan gesondheid koop nie, jy kan weliswaar ʼn omgewing probeer skep wat veilig en gesond is maar selfs dit waarborg nie dat jy nie kan siek word nie. Die siekte vra nie na posisie en status, belang en plek nie maar dring hom op aan wie hy wil. Voor die siekte is ons almal gelyk, daar is geen aanstellerigheid nie. Doen dus afstand van ʼn onegte, voorgee lewe wat daarop gerig is om ander mense te beïndruk. Soek egte vriendskappe, nie die wat ʼn ander agenda het nie. Daar word gesê dis wie jy ken wat die verskil maak. Inderdaad. Die wie is die Een met met ʼn hoofletter. Die ander staan soos en en jy op dryfsand.

Die waarde van stilte
Stilte is ʼn vertrekpunt, dit is waar jy begin.  Stilte is vertroue in God, die Onsienlike maar teenwoordige. Die “rat race” van vroeër het ons nie gevrywaar daarvan dat dinge ineenstort nie. Gaan ons jou wrintie waar weer op die meule klim of gaan ons tyd maak vir God, mekaar en ons medemens.

Ja, dit is ʼn baie vreemde plek en tyd waarin ons onsself bevind.

Soos tieners grootmaak nie iets is wat ouers voor kan voorberei nie omdat hulle jou telkemale verras en geen twee tieners dieselfde is nie, weet ons ook nie hoe ʼn post Covid 19 wêreld daar gaan uitsien nie. Ons sien tekens maar die toekoms sal leer en moet nog uitspeel.

Intussen tel mense met verdrag weer die aflosstokkies wat vir ʼn oomblik laat lê is op en neem internasionale spanning weer op. Wat het van die leier van Noord Korea geword en watter implikasies hou dit vir die wêreld in. Moondhede vra dat China skadevergoeding moet betaal vir verliese wat hul ekonomie gely het omdat die wêreld nie betyds gewaarsku is oor die ware feite van Covid 19 nie, so altans word beweer. Straattonele van ontstoke menigtes maak toenemend weer hul verskyning. Maar hoe wil ons hierdie realiteite laat uitspeel in ʼn veranderende wêreld.

Ek is nie moedeloos nie maar opgewonde en vol verwagting. Die post Covid 19 wêreld kan net beter wees as die waaruit ons sopas ontsnap het. Ons mag nie weer in die strik van eiebelang, selfsug, magsvertoon, vooroordeel en vrees gedompel word nie.

Soos die ou bekende liedjie destyds gesê het -

No comments:

Post a Comment