Wednesday 6 May 2020

Saam is ons bekwaam


1 PETRUS 2:5
Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

Jesus in konfrontasie met die wetsgeleerdes wys daarop dat ʼn koninkryk wat in homself verdeel is nie kan bly staan nie. Dit n.a.v. die beskuldiging dat Hy sy wonderwerke met behulp van die Satan doen. Die onsinnigheid van die Fariseërs se beskuldiging is duidelik maar hulle is so verblind deur hul vooroordeel dat geen argument hond haaraf maak nie. Dan volg Jesus se waarskuwing oor die sonde teen die Heilige Gees wat nie vergewe kan word nie.


Ek sluit graag aan by die gedagte van ʼn verdeelde koninkryk. Dit was nog altyd een van die groot uitdagings waarmee mense worstel, die van vooroordeel, agterdog en vrees. Die feit dat die ander nie soos ek en ons is nie is vrugbare teelaarde vir tweespalk en verdeeldheid. Ons sukkel om in diversiteit ʼn gawe te sien maar beleef verskillend eerder as ʼn bedreiging. Suid Afrika is daarvan ʼn goeie voorbeeld en die albatros is moeilik om af te skud.

Dawie Jacobs in ʼn brief in Beeld skryf:
Kyk in dieselfde rigting eerder as vir mekaar.
Praat met mekaar, moenie op mekaar skreeu nie.
Sluit vingers in ʼn handdruk eerder as om dit vir mekaar te wys.
Die goeie raad, niks minder as Evangelie nie is van toepassing op die veelheid van verhoudinge waarin  ons onsself bevind.

Na Covid-19 sal weer sy dosis opportunisme en politiekery tot gevolg hê. Die broosheid van mense om te wantrou eerder as om te vertrou sal gou weer uitgebuit word. Dit klink vir my of ons Staatspresident ʼn ander narratief volg. Mag die Here vir ons leierskap gee wat onvoorwaardelik bou en nie afbreek nie. Mag ons as gelowiges lewende stene wees wat ingebou word in die nuwe Koninkrykstruktuur wat Jesus op aarde kom vestig het.

MARKUS 3:24
As 'n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie;

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment