Wednesday 15 April 2020

Valse sekuriteite

Ek gesels vanoggend in die program Perspektief ( Woensdae 1100 op 657 AM) met Bertus Swanepoel, ʼn sielkundige van Pretoria oor die valse sekuriteite waarop ons geneig is om te bou en wat in ʼn tyd soos hierdie onder ons wegkalwe. Hy noem ʼn paar sake, ons geneigdheid om te wil beheer, ons skeefgetrekte behoefte aan aanvaarding en die belangrike rol wat ons in die samelewing speel en dalk nou nie meer geld nie.


Mense wil tog veilig voel en daarmee is niks verkeerd nie. Dit is net wanneer ʼn mens vind dat jou fondasie gebrekkig en onbetroubaar is dat jy aan die bewe gaan. Dit laat my dink aan die gelykenis wat Jesus vertel het van die man wat sy huis op die sand, eerder as op die Rots, gebou het. Ons ken mos die kinderliedjie wat by ons kategese gesing word.



Die wyse man bou sy huis op die rots x3

en die reën het neergeval.

En die reën val neer en die vloed styg op x3

en die huis op die rots bly staan!


Die dwase man bou sy huis op die sand x3

en die reën het neergeval.

En die reën val neer en die vloed styg op x3

en die huis op die sand val plat!


Grootmense vergeet somtyds die mooi waarhede wat aan moedersknie geleer is.


Ons leef in ’n tyd van onsekerheid. Mens weet nie aldag hoe en waar die inperking, nog meer belangrik, die Korona virus bedreiging gaan uitspeel nie. Beriggewing wil dit hê dat ons eers teen September met die volle impak daarvan te doen sal hê.

Een saak staan soos ’n paal bo water.

Ons lewens gaan dramaties verander vorentoe en tientalle dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar het gaan moet aanpas.


Die virus tref nie swartskapies nie. Dit diskrimineer nie tussen sg. “gewone” en “vooraanstaande” mense nie. Almal kan daarvan ’n prooi word.


Daar is goed wat ’n mens uiteraard moet doen as dit hoegenaamd binne jou vermoë is. Ek dink aan voorsorg op verskeie gebiede.

Daar is persoonlike en interpersoonlike verantwoordelikheid.

Sosiale afstand handhaaf en by die huis bly is deel daarvan.

Maar daar is ook nadink oor sekuriteit wat die teenswoordige transendeer, die hoop op die ewige lewe, afhanklik, nederig en dankbaar lewe.


Is jou huis, ook myne, op die Rots gebou.

Regtig en sowaar?



No comments:

Post a Comment