Tuesday 14 April 2020

Almal wat dors het kom na die water

“Gebed is wonderlik om visie te verhelder, die senuwees te kalmeer, plig te definieer, die doel te versterk, en die gees te verheerlik en te versterk.” ~ SD Gordon
“Die belangrikste ding wat ’n wedergebore Christen kan doen is om te bid.” ~ Chuck Smith

Somtyds sê mense, “nou kan ons nog net bid” . Uiteraard is dit nie in orde nie. “Prayer is the first line of defense” . Ja, eintlik omhul gebed alles, dit is van gebed na gebed.
Regverstaan is my hele lewe ʼn gebedshouding.

Gebed betuig ten diepste afhanklikheid. Trotse en selfvoldane mense bid nie. Stukkende, brose, afhanklike, nederige mense wel. Dit beteken nie dat lg. groep volmaak is nie, inteendeel. Dit is juis hul besef van aangewese wees op God wat hulle laat bid.

Gebed wat in die geloof gebid word hang nie iewers tussen die vloer en die plafon rond nie. Gebed transendeer menslike konstrukte. Gebed hoef in elk geval nie ver te “reis” nie. Gebed se adres is die Een wat binne jou leef. Dit is die ewige lewe, sê Jesus, dat die Vader, Seun en Gees in jou woning maak.
Ondenkbaar en onverstaanbaar. God leef in my.



JOHANNES 17:3
En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.
Joh.14:23            Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.

Miskien is gebed so moeilik en moeisaam vir baie van ons omdat ons God as ver verwyderd en bykans ontoeganklik beleef. Hy is iewers in die hemel besig met sy eie dinge en wil nie regtig gesteur word nie. Boonop moet ons die pad na Hom plavei met kunsmatige lofverheffinge soos lofsangers in die parlement. Hy luister ook nie baie aandagtig nie en daarom moet ons dinge oor en oor herhaal. Daarbenewens veroorsaak ons onvolmaaktheid dat ons nie eintlik vrymoedigheid het om Hom te nader nie en verwag ons eerder ʼn skrobbering en teregwysing as ʼn vriendelike ontvangs.

Ons is tog juis gedurende hierdie Paastyd herinner aan die vreugde dat die dik gordyn wat die heilige van die Allerheiligste gedeelte van die tempel geskei het, middeldeur geskeur is. God het dit geskeur, van Bo af na mense toe.
Gewone sterflinge kan dit nou met vrymoedigheid waag in sy heerlike teenwoordigheid. Anders as in Ester se tyd hoef ons nie te wag dat Hy ʼn goeie septer na ons uitsteek om ons van sy guns te verseker nie.
Die pad is oop.

Jesaja se woorde troos en bemoedig
JESAJA 55:1
Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.




Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment