Thursday 16 April 2020

Sagte harte

ROMEINE 12:15

Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.


Dit is so hartseer dat mense wêreldwyd so swaar kry. Ons in Suid Afrika is tans steeds redelik verskans teen die impak wat die virus in baie lande van die wêreld het. Ons verdien nie die guns nie en moet ons hou by die reëlings waaraan ons onself verbind het soos binne bly en sosiale afstand handhaaf. Dat daar gemeenskappe is waar dit bykans onmoontlik is gegewe die nabyheid van strukture aan mekaar, onderontwikkelde infrastruktuur, voedsel nood onder mense, veral kinders, maak die saak kompleks.


Dit is veral die kinders wat gewoond was aan sop, ʼn broodjie en ʼn vrug wat nou aan die kortste end trek. Die regering en hulporganisasies het inderdaad hul hande vol om in die aanvraag te voldoen. Dan nog die straatbewoners, vlugtelinge en ander groeperinge van mense, elk met hul eie problematiek. Die owerhede het hul hande vol en verdien ons ondersteuning.


Volgens beriggewing kan die virus eers teen September sy ware kleure wys in Suid Afrika. Beide hospitale en begraafplase word in gereedheid gebring. Dit ontsenu ʼn mens ietwat omdat ʼn mens hoop dat die bedreiging dalk gedeeltelik afgekeer is. Bid en saamwerk is ons voorland.


Ons was nog nooit so gekonfronteer met die kortstondigheid van die lewe, ons kwesbaarheid en afhanklikheid as nou nie. Daar is sulke merkwaardige stories van mense wat ten spyte van eie gesondheid hulself blootstel. Ons gedagtes gaan uit na hospitale, noodwerkers, polisie en weermaglede, talle hulporganisasies, ens. Mag die Here hulle bewaar.


Dit klink dalk asof ek ʼn klippie in die skoen het vandag maar laat ek dit liefs uit my sisteem kry.


Daar is altyd mense wat ander se kwesbaarheid uitbuit vir eie voordeel. Ons het dit gesien in die ongeregverdige eskalasie in pryse wat hopelik in die bek geruk is alhoewel ʼn mens intens bewus word daarvan dat Suid Afrika ʼn duur plek geword het om in te oorleef.


Ons is dankbaar vir organisasies wat betaal vakansies van allerlei aard belowe. Selfloosheid is ʼn kosbare kommoditeit en die roeping van elke burger in ons land wat dit hoegenaamd kan bekostig.


Dat toe ek laas gelees het nie minder as 183 skole gevandaliseer is nie is hartverskeurend. Dit is juis daar waar die basis gelê word vir ʼn waarde gebaseerde samelewing gele word en armoede wesentlik aangespreek kan word. Nou word skole die teiken van mense wat geen duit omgee vir hul eie of ander mense se kinders nie. Dit kan doodgewoon nie regverdig word nie.


So ook word drank en ander winkels tans toenemend beroof. Mens het uiteraard begrip vir die nood van sommige gemeenskappe maar wanneer drank winkels die teiken is is daar geen verskoning nie.


As die tyd van afsondering ons nie dring om die toekoms anders aan te pak nie, bly ons aan die verloorkant, ongeag of ons die Korona epidemie afweer of nie.


Oor God se guns in ons lewens wil ek by Kris Kristofferson aansluit


Why me Lord, what have I ever done

To deserve even one

Of the pleasures I've known


Tell me Lord, what did I ever do

That was worth loving you

Or the kindness you've shown.


Lord help me Jesus, I've wasted it so

Help me Jesus I know what I am

Now that I know that I've need you so

Help me Jesus, my soul's in your hand.


Groete


Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment