Wednesday 8 April 2020

Teken die blou lug rondom


Suzette vertel my van ʼn artikel ( of iets) waar iemand gesels oor te gawe om te teken (skets). Die persoon verwys daarna dat die meeste mense, (behalwe as dit jou gawe is en jy dit weet)  sal sê dat hulle nie kan teken nie. Ek tel onder daardie mense en vir my gevoel lyk selfs my stokmannetjie of hy ernstig siek is.
Die skrywer van die artikel  bevraagteken die oënskynlike onvermoë van mense  en sê dat dit eintlik heel eenvoudig is. Neem bv. ʼn boom. Skets die blou lug rondom en tussen die boom se takke en blare en die boom ( dalk ʼn mooie!)  tree te voorskyn. Dit maak baie sin ek gaan dit probeer.



Met verwysing na die pandemie en gepaardgaande kommer, vrees, onsekerheid en worsteling daar rondom word ons aandag sommer baie maklik op daardie werklikheid gefikseer. Jy kom nie daarvan af weg nie. Die nuus word daarvan oorheers, die mense praat sonder ophou daaroor, die stil strate demonstreer dit duidelik.
Ons is in ʼn krisis en ons hou dit duidelik voor oë.

Maar rondom die krisis is daar ʼn ruimte gevul met blou lug soos net die hemelruim kan pronk. Miskien as ons ons oë vir ʼn oomblik van dit wat voorhande is afhaal en die blou lug en sy vele gestaltes raaksien kry ons beter perspektief.

In ons geval verteenwoordig die beloftes van God enersyds en die bewonderenswaardige wyse waarop mense tans  na mekaar uitreik ʼn magtige uitspansel.
Dalk het ons en ons redding die blou lug verteenwoordig toe Jesus ( ons dink mos daaroor na in hierdie lydingstyd) sy lewe aan ʼn vloekhout gegee het. Sou Hy net op die swaar en seer gefokus het kon Hy dalk anders besluit het. In stede daarvan sien Hy, sterwend aan die kruis en te midde van soveel bespotting, die skare mense wat deur die eeue ( ons ingesluit) deel sou kry aan sy Koninkryk.
Waarop is jou aandag vandag gerig?
Dryf die inperking jou teen die muur uit?

Vra die Gees moet jou geestesoë verhelder sodat hy die blou lug van sy genade kan raaksien.
Behalwe dat jy agterkom dat jy toe wel kon teken kry die voorwerp wat jy teken konteks en perspektief.
Covid-19 spreek nie die laaste woord nie.

Die Here wel.
Turn your eyes upon Jesus
Look full in his wonderful face
And the things of this world will grow stragely dim
In the light of His glory and grace



Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment