Monday 6 April 2020

Die nederige Jesus in by ons


Matt.21:5
“Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ʼn donkie, op die vul van ʼn pakdier”.

Gister was Palmsondag, die dag, baie jare gelede toe Jesus Jerusalem binnery op ʼn donkie. Vroeër het Hy twee van sy dissipels opdrag gegee om die hingsvul te gaan haal en na Hom te bring. Ten tye van hierdie gebeure gooi die dissipels klere op die donkie sodat Hy daarop kan ry. Die mense kom nuuskierig nader en herken die Wonderwerker van Nasaret. Hulle gooi palmtakke voor Hom op die pad om sy aankoms te vier. Woorde uit die ou Testament word gedreunsang : Loof Hom wat in die Naam van die Here kom. Prys Hom in die hoogste hemel. 

(Matt.11:9)
“Wie is hierdie man?”, word gevra. Die skare antwoord, “die profeet Jesus van Nasaret in Galilea”.
Of die mense die betekenis van hul eie belydenis verstaan is nie seker nie. Immers, dit is dieselfde skare wat nie lank van nou af kruisig Hom sal skree nie. (Matt.27:39)
Wie is hierdie man vir ons, veral in hierdie tyd van swaarky en lyding?
Die omvang van sterftes aan die Covid-19 virus word daagliks met hartseer dop gehou. Meer as 65000 mense het reeds gesterf, ver meer as 1.5 miljoen mense is geïnfekteer. Na verwagting kan tot 240000 mense in die VSA sterf.



In Suid Afrika word die asems hierdie week opgehou. Wêreldwyd leef mense in afsondering. Die strate is leeg, gimnasiums word in hospitale omskep.
Dokters werk onverpoosd om mense by te staan. Gesondheidswerkers vrees vir hul eie lewens. Noodpersoneel het hul hande vol.
Te midde van dit alles ry die nederige Koning van die wêreld ons konteks binne, op ʼn donkie. Belangrike amptenare sou op ʼn oorlogperd hul opwagting maak. Hy egter is nederig en sagmoedig.
Hy verstaan ons lyding. Nie lank van nou af nie sal Hy ons eensaamheid, of ons sy eensaamheid, deel. “My God , waarom het U my verlaat?” (Matt.27:49)
Hy is Immanuel, God met ons, sodat ons nooit ooit weer van God verlate sal wees nie.
Niks kan ons skei van die liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie. Paulus verpak ons lyding, benoudheid, honger gevaar, swaard, Korona virus, niks kan ons skei nie. In alles meer as oorwinnaars deur Hom wat ons eerste liefgehad het en nog nie opgehou het om ons lief te hê nie. (Rom.8:31vv)
God is hier, ook nou.
Sy seun demonstreer  dit.
Die Gees bevestig dit.

Ps. Geniet gerus hierdie saamsing video met verskeie Suid Afrikaanse kunstenaars wat die lof van Jesus besing.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment