Thursday 9 April 2020

Dink aan die armes


Ons staatspresident sê n.a.v.  ʼn berig in Beeld (7 April) “ Dalk het dit nou tyd geword vir ʼn nuwe morele ekonomie waarin die mense en hul welsyn die middelpunt is”. Dit te midde van een van die grootste tragedies van ons tyd, die Covid-19 virus wat wêreldwyd pandemonium, hartseer en vrees teweeg bring.

Die pandemie het ʼn mens intens bewus gemaak van die hartseer omstandighede waarin die grootste deel van ons bevolking leef en probeer oorleef. Beelde van armoede, verwaarlosing, onmenslike lewensomstandighede, verslaentheid en hartseer begroet ʼn mens veral wanneer die TV aangeskakel word.

Sommige spreek kritiek uit dat verarmdes hul oënskynlik nie veel steur aan inperkingsmaatreels soos ingestel is nie. Ons vind dit uitdagend om binnenshuis te bly omring van  verskeie vertrekke, luukse goedere soos TV, rekenaars, slimfone, genoeg om te eet en selfs tuine om in te oefen. Daarvoor hoef ʼn mens nie verskoning te vra nie maar in vergelyking met die pynlike oorlewing uitdagings waarmee medeburgers gekonfronteer word, moet ʼn mens ʼn bietjie meer begrip toon.



Mense wat onder haglike omstandighede en te midde van  bykans geen beskaafde infrastruktuur probeer oorleef nie kan ook nie reken op ʼn goeie en gesonde immunitietsisteem nie. `ʼn Gebalanseerde dieet is sekerlik nie prioriteit wanneer daar nie kos is nie.

Ons staatspresident bedink die wenslikheid van ʼn morele ekonomie, een waarin die belange van mense voorop gestel word. Daar kan geen twyfel wees dat dit nou ʼn prioriteit moet wees nie.

Suid Afrika sal sy mense wat agtergebly het moet gaan haal.
Dit is ons onbetaalde rekening.
Dit help nie om skuld uit te deel en te verwyt  nie.

Apartheid en die verontmensliking wat daarmee gepaard gegaan het is mede verantwoordelik. Net so die skreiende vermorsing en diefstal  van bronne toe mense na demokratisering opgetel moes word.

Dit is water onder deur die brug.

Nou moet ons fokus, doelgerig, opofferend, pro aktief, omvattend en dapper. Ons moet ʼn tydraam opstel waarbinne elke gemeenskap met alle samelewingsverbande daarbinne ʼn daadwerklike verandering in eie omgewing teweeg wil bring.

Elke gemeente behoort daarin ʼn leidende rol te speel. Luukshede en bouprogramme moet parkeer word. Dit geld eweneens  vir die plaaslike regering en besighede in daardie omgewing.

Benewens noodsaaklike onderhoud moet bronne vloei na die agtergeblewenes en op so ʼn wyse dat hulle nie net ontvangers bly nie maar mede verantwoordelikheid aanvaar. ʼn Holistiese benadering moet gevolg word.

Daar kan geen twyfel wees dat daar ʼn morele verantwoordelikheid op die skouers rus van elke Suid Afrikaner nie.

En wee die een wat daaraan dink om een enkele sent van die armes te steel of die situasie vir eie voordeel  uit te buit.
Kriminele hoort in die tronk.

“You don’t live in a world all alone. Your brothers are here too.”
— Albert Schweitzer

Die toekoms gaan ons oordeel.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment