Friday 17 April 2020

Jy mag maar

Soos al dikwels genoem word ons baie bewus van ons eie verganklikheid en kortstondige bestaan op aarde gedurende hierdie uitdagende tyd waarin ons leef. In Suid Afrika het verskeie persone al die lewe gelaat as gevolg van die Covid-19 infeksie. In vergelyking met baie wêrelddele is dit effens ongeag van hoe hartseer dit ook al mag wees.

In eie kring het ons gemeenskap ʼn bekende in die persoon van Louis Wilsenach verloor. Wanneer iemand na aan jou sterf is die ervaring ietwat anders as wanneer dit soos vir baie steeds verwyderd en ver is.

Wanneer ʼn mens met die realiteit van jou en ander se sterflikheid en broosheid saamlewe dink ʼn mens anders oor sekere dinge as andersins. Skielik word allerlei irritasies en soortgelyke dingetjies minder belangrik. Waar dit in die verlede aanstoot gegee het verdra jy dit omdat dit gering is in vergelyking met die totale afwesigheid van daardie persoon.

Ons almal het maar ons voor en afkeure.

Daar is dinge wat ons nie aanstaan nie om die gesegde te gebruik, goed waaroor ons selfs baie ernstig voel. Oop gesprek is uiteraard belangrik indien die goed regtig so belangrik is dat jy dit nie doodgewoon kan ignoreer nie, as dit ʼn betekenisvolle negatiewe impak op jou menswees het en skade berokken. Ek kan in elk geval nie dink waarom die ander persoon, veral as julle in ʼn vertrouens- en liefdesrelasie staan, nie daarvan sou wou afsien nie. Onthou die rolle kan ook omgekeer wees sodat dit jy is wat die aanpassing moet maak.

Maar om in die skeihof te beland omdat die tandepastebuisie verkeerd leeg gemaak word, is onsinnig. Dit mag jou irriteer maar dit is nie wesenlik belangrik nie. Koop jou eie buisie as dit daarop aankom maar moenie ʼn belangrike verhouding laat skade lei oor simpel goed nie, veral nie teen die agtergrond van wat bo geskets is, die kortstondigheid van die lewe nie.

Covid-19 is maar ʼn voorbeeld van goed wat ʼn mens kan oorkom. Daar is ʼn legio sake waaroor ons geen beheer het nie. Leef liewer voluit as om jou en ander se lewens op hou te plaas oor iets wat hoegenaamd nie belangrik is nie.

Ek haal graag hierdie pragtige gedig aan wat iets van ons eie beperktheid skets asook die noodsaak om weer te dink oor wat belangrik en minder belangrik, dalk selfs onsinnig is.




Jy mag maar-Hester Heese


Jy mag maar jou koffie slurp

of in die piering gooi

Jy mag maar met vuil voete

uit die komposhoop

oor ons wit mat loop


Jy mag jou naels byt

vals sing

swak groente huis toe bring

die badkamer omkrap

die nat vloer opdroog met jou waslap


Skakel maar die radio aan

om ses in more

en luister hoe hulle brabbel

oor veevrektes

aartappelroes

inseminasie


Jy mag maar snags hard snork

oor koue voete brom

as jy net terug kan kom



Groete


Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment