Wednesday 29 April 2020

Altyd gereed


Daar is ʼn tyd om gebore te word en ʼn tyd om te sterwe. (Prediker)
Dood waar is jou angel? (Paulus)

Dit is ʼn bietjie somber, maar ʼn realiteit, die lewe hierna. Miskien wil ek liewer so na die dood verwys. Mense wat oorgegaan het, aanbeweeg het, graad gevang het, aangekom het, bestemming bereik het, hul taak afgehandel het, hul plek op die pawiljoen ingeneem het. 



Die Korona virus het wêreldwyd reeds meer as 100000 lewens geëis. Tans word voorbereidings in Suid Afrika getref om die (verwagte) moontlike sterftes in die maande wat volg te akkommodeer. Berigte op aand TV wat berig oor plek wat in gereedheid gebring word om mense wat gesterf het te begrawe, ontstel op ʼn manier.
Wie is die mense van wie gepraat word?

Helaas, dit is maar van ons, nie waar nie?

Inderdaad bid ʼn mens dat die ruimtes in begraafplase nie nou opgeëis gaan word nie. Mag die owerhede na dese  vrugtebome, palms, eg Suid Afrikaanse doringbome, groente, blomme, enige iets anders daar plant wat die lewendes aan die lewe kan hou.

Mag die Here ons ontmoet.

Feit van die saak is dat lewe en anderkant die lewe  ʼn werklikheid is en elkeen daarvoor voorbereid moet wees. Intussen leef ons voluit omdat die lewe aan hierdie kant ʼn gawe en kosbaar is. Daar is soveel om vandag te geniet, te waardeer, raak te sien en te hoor.

Begin in jou eie kring en staan weereens verwonderd oor die genade wat God elke dag bewys.
Waar moontlik, gee ʼn drukkie, soen, hou vas, genie, beleef en omhels. Andersins wuif vriendelik op ʼn afstand, gooi ʼn soentjie soos die kleinkinders doen.

Ook dit gaan verby.

Die aandgesang se dit so mooi

Ek weet aan wie ek my toevertrou het,
Al wissel dan ook dag en nag;
Ek ken die Rots op wie ek  gebou het,
Van wie ek al my heil verwag.

Eens aan die einde van my lewe
Sal ek, van sorge en moeite vry,
Vir elke dag my hier gegewe,
U hoër, reiner loflied wy.


Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment