Wednesday 1 April 2020

Moenie bang wees nie. Die Here is by jou.

Josua 1:9 Wees vasberade. Moenie  skrik nie, moenie bang  wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Prof Kobus Kok ( Evangeliese Fakulteit, Leuven)  deel die volgende akroniem wat verband hou met die gevreesde Covid-19 virus.

C     Christus / Christ
O     Ons / Our
V     Verlosser / Victory
I       In / In
D     Dreiging / Distress

Korona is boonop die Latynse woord vir kroon of krans.
Ons beleef uitsonderlike dae. Die wêreld is in rep en roer terwyl die virus onstuitbaar voort woed. Die 21 dae van inperking sit ongemaklik in ons klere. Ons is nie gewoond aan stilsit nie.


Die wyse waarop mense na God vra is bemoedigend. Bykans elke boodskap wat op sosiale media gedeel word het ʼn geestelike ondertoon. Humor laat ons vir ʼn oomblik glimlag maar dit is die Waarheid van God se Woord, sy teenwoordigheid en uitsonderlike genade en beskerming wat ons dra.


Die waarheid dat mense sterf het naby gekom met die dood van my vriend, Louis Wilsenach aan Covid-19. 



Sy energieke teenwoordigheid bly ʼn mens by. Muldersdrif waar Louis gewoon het is skaars 10 kilometer van ons af. Covid-19 het ook in ons omgewing ʼn draai kom gooi. Dis nie meer ver nie. Dis hier, dis werklik en dis gevaarlik.

Die mooi akroniem wat prof. Kobus met sy kinders deel ( kom ons doen dieselfde) gee onmiddellike ʼn ander perspektief op die aanvegting wat ons beleef. God het sy troon nie geabdikeer nie. Hy gooi nie hande in die lug en wonder spreekwoordelik waarheen nou nie. Die misterie van wat God se plan, plek, betrokkenheid, rol, bedoeling, teenwoordigheid in hierdie hele aangeleentheid is, is  onkenbaar.

Daar is ʼn verskil tussen verstaan en vertrou. As rasionele mense wil ons verstaan, sin maak van wat rondom en met ons gebeur. As dit sin het, word dit draaglik. Geloof werk anders. Geloof gee toe dat so baie dinge onverstaanbaar is. Lyding is een daarvan. Eeue lank probeer mense sin maak daarvan. Niks daarvan bevredig nie.

ʼn Eerlike erkenning dat die rasionaal/rede  ( dalk nie eers die regte woord nie) vir hierdie toedrag van sake vir ons ontoeganklik is.

Is dit die natuur se manier om sy voortbestaan te balanseer en te reguleer.
Is dit mense se onverskilligheid.

Is dit God wat slae uitdeel. ( Lg. oorweeg ek glad nie. Sy Seun het reeds betaal).
Misterie. Onverstaanbaar. Tog bly die akroniem onteenseglik waar. Dit is die een waarheid wat soos ʼn paal bo water bly staan. Christus ons Verlosser in en te midde van (be) dreiging. Hy dra die Kroon.
Mag jy vandag nuwe vrede vind in die wete dat Hy ons nie aan onsself en omstandighede oorlaat nie.
Wees sterk.

Moenie bang wees nie.
Die Here is by jou.

He is Lord
He has risen from the dead and He is Lord
Every knee shall bow and every tongue confess
That Jesus Christ is Lord


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment