Tuesday 31 March 2020

Tot later, Louis


Ons sê dit vir mekaar maar leef asof dit nie so is nie. Die lewe is kortstondig en onvoorspelbaar broos. My vriend Louis Wilsenach is gister aan die gevreesde Covid-19 virus oorlede nadat hy onlangs siek geword het.

Louis was ʼn energieke man, baie verbeeldingskrag en innovasie en wat hom beywer het vir die belange van kinders veral. Hy was ʼn wêreldreisiger en het vreugde daaruit geput om bekende en minder bekende kerklike bakens te verf en te teken. Ek is so bevoorreg dat ʼn aantal van daardie sketse in ons 2019 Dagboek ( Jannie en vriende) opgeneem  is. Op verbeeldingryke  wyse het hy beskryf wat hy daar ervaar het en daarin geslaag om ʼn mens op reis te neem alhoewel jyself  by die huis bly.



Louis was, vir my gevoel, eksentriek, oorspronklik en eg. Daar was net een Louis.
Louis het ʼn roemryke loopbaan gehad en het in baie samelewingsverbande ʼn merk gelaat. Ons sal hom baie mis en is dankbaar vir sy lewe en getuienis.
Tot later, Louis.
Ons sal mekaar verseker weer sien.

Louis het benewens die sketse ook twee bydraes geskryf.
Hier is ʼn uittreksel uit een van hulle :

“Vir my is een van die mees wonderbaarlikste sinne in die Skrif …
                        “ Dit is My seun in wie Ek ’n welbehae het!”
Daardie woorde wat U uit die hemel gespreek het,  het U  trots hier op aarde laat tuimel …
wat almal tot vandag toe laat besef … Jesus is U seun … ons Redder.
                ’n Week daarna kon hy sy eerste wonderwerk doen! Dis magtig.
                                               Dit is wat ’n vader in sy kind kan losmaak!
Ons bid

Louis het in die omgewing gebly wat beteken dat die virus nie net meer iets daar ver, amper teoreties is nie. Dit is ʼn nare werklikheid wat reeds die lewe van duisende mense geneem het. Duie impak daarvan word ver en wyd gevoel. Dit is nodig dat ons saamwerk om hierdie onsigbare vyand op sy plek te sit. Ons bid vir ʼn teenmiddel wat effektief is. Ons bid dat siekes sal herstel, dat die oordraagbaarheid daarvan beperk sal word, dat mense sal tuis en veilig bly. Ons bid vir die groot taak wat die owerheid het om op verantwoordelike wyse op te tree. Ons staatspresident ( hoe lekker is dit nie om te kan se “ons” sonder om skaam te kry) het gisteraand tydens ʼn direkte uitsending hulde gebring aan die “unsung hero`s” wat gedurende hierdie tyd onbaatsugtige werk verrig.

Meer begrip nodig

Naskrif: Ek het my geliefde vanoggend gehelp met huis opruim. Selfs twee mense kan ʼn plek goed deurmekaar krap. Stofsuig en vloere poleer werk met ʼn man se rug. Ek het bewus geword van nog iets wat ek min begrip het vir die taak waarmee huiswerkers (ou Margaret) weekliks betrokke is. Ek het haar werk dalk effens vanselfsprekend aanvaar en nie genoeg dankbaarheid bewys nie. Waarvoor het jy nou beter begrip. Skryf sommer in die kommentaar kolom. Hoor graag van jou.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment