Thursday 2 April 2020

Blymoedigheid


SPREUKE 15:15
Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees.

Die volle betekenis van ʼn woord blymoedigheid  kom beter na vore wanneer ʼn mens in terme van sinonieme en antonieme dink.

Woorde wat in dieselfde betekenisveld lê sluit blydskap, geluk, vreugde, gemoedelikheid en welstand in.
Die teenoorgestelde van blymoedigheid sluit in onvergenoegd, treurig, bedruk soos die teks so mooi sê, negatief, selfs melancholies in.



Ek wonder hoe voel jou gemoed vandag? Dit is vannag 12 uur dat ons staat van inperking begin het. Miskien is jy verbaas dat jy dit so goed hanteer. Ons prys die Here saam met jou.

Miskien sukkel jy met die afsondering en dreig ʼn depressiwiteit om jou te oorweldig. Belangrik dat jy jouself nie onder veroordeling plaas en jou swaarkry nog vererger nie. Vat ʼn slag aan jouself  en word bewus daarvan dat jy ʼn mens, nie ʼn superwese is nie. Die Here verwag dit ook nie van ons om super geestelik te wees nie. Trouens, gebrokenheid en afhanklikheid wat nie gebreidelde ongeloof impliseer nie is eg aan die Bybelse verhaal. Die Psalmdigter en sy worsteling is daarvan een voorbeeld. Per geleentheid is Jeremia so moedeloos en teleurgesteld dat hy God verwyt. JEREMIA 15:18

Waarom is daar nie 'n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op 'n stroom wat nie standhoudend is nie.
Die Here is hier egter nie te vinde vir Jeremia se ietwat arrogante houding nie en dwing hom om sy woorde terug te trek. Immers as profeet het hy ʼn verantwoordelikheid.  19      

Die Here het toe gesê: As jy jou woorde terugneem, sal Ek jou weer in my diens neem. As wat jy sê, waarde sal hê en nie onsin sal wees nie, sal jy weer namens My kan praat. Die mense moet jóú volg, nie jy vir hulle nie.
Die teks help ons egter in die sin dat mismoedigheid, teleurstelling en moedeloosheid nie uniek aan enige een van ons is nie maar ʼn gemeenskaplike menslike ervaring. Dit sal baie help as ons soms ietwat eerliker is oor ons ervarings.

Dit is opmerklik dat blymoedigheid twee kernwoorde bevat, tw. bly en moed. Die twee begrippe is interaktief besig om op mekaar in te speel. Skep moed en jou blydskap neem toe. Kies om bly te wees en moed lig sy kop op. Paulus se bekende teks in Fil.4:4 is ter sake “ Wees bly in die Here, ek herhaal, wees bly (altyd)”
Sê bedruktheid die stryd aan. Dis nie waarvoor Jesus betaal het nie. My erfdeel is blymoedigheid selfs te midde van aanvegtinge.

Die Here is (nog altyd, onvoorwaardelik, onvergelykbaar, sonder skroom of aarseling) lief vir jou !

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment