Wednesday 11 March 2020

Vir ʼn tyd soos hierdie


Ek wonder of lesers weet dat daar ʼn boek in die Bybel is waarin die naam van God nie voorkom nie, altans nie eksplisiet nie. Oral gaan daar hande op. Hoe dan anders? Die Here se kinders ken die Woord, of hoe. Ja, Ester (Hadassa haar Joodse naam) in die ou Testament vertel die verhaal van ʼn doopgewone Joodse meisie en boonop ʼn weeskind in ʼn vreemde land wat as koningin haar plek aan die invloedryke koning  Ahasveros se sy inneem. Dit nadat Vasti  geweier het om haarself te paradeer voor sy uitgesoekte gaste.


Ester is deur Mordegai grootgemaak nadat haar ouers gesterf het. Hulle is nakomelinge van die bannelinge wat destyds deur Nebukadneser na Babilonië weggevoer is. Ahasveros heers oor ʼn duiselingwekkende groot stuk aarde maar is nie juis ʼn man met rug graad nie. Hy is maklik beïnvloedbaar en laat hom aan sy neus rondlei deur mense met ander agendas, mense soos Haman wat van die Jode wil ontslae raak ( beplan ʼn volksmoord op 13 Desember daardie jaar) omdat Mordegai weier om voor hom te buig.
Iewers hoor Mordegai dat daar ʼn aanslag op die koning se lewe gaan wees en laat weet vir Ester wat die koning waarsku. Dit beland Mordegai in die koning se goeie boekies wat uiteindelik die draaipunt in die hele verhaal bring en geleentheid skep dat die saak van die Jode se naderende slagting onder die koning se aandag gebring kan word. Dit is juis daar waar Ester haar plek en strategiese rol moet vind en uitleef. Huiwerig om voor die koning te verskyn omdat sy as ongenooide die doodstraf kan kry waag sy dit tog. Mordegai herinner haar dat sy met die oog op ʼn tyd soos “hierdie” in daardie posisie as koningin leef.
Haar intersessie gerugsteun deur Mordegai en die dood van Haman voorkom die slagting en gee die Jode geleentheid om hulself te verdedig. Die Purimfees herinner Jode jaarliks aan God se toetrede tot hul benarde situasie.
Daar bestaan geen twyfel dat God strategies handel nie. Toeval en noodlot bestaan nog in sy of Christene se woordeskat. Hy is met ons, met sy wêreld, met die geskiedenis en die koms van die Koninkryk besig. Ons, jy en ek, speel daarin ʼn belangrike en onvervangbare rol. Die geheim is om te ontdek waartoe God ons roep binne persoonlike en gemeenskaplike konteks.
Immers se die Here, Ek weet wat Ek vir jou beplan.
Doen moeite om te onderskei presies wat dit mag beteken en raak daarmee besig.
Ps. Indien jy vriende het wat hierdie meditasie daagliks op epos sou wil ontvang, laat weet asb. (met hul toestemming).
Soveel liefde vir jou.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment