Wednesday 11 March 2020

God sien jou

Die lewe gebeur en nie almal en alles neem ons beste belange in ag nie. Dit is asof mense deesdae in ʼn stryd  om te oorleef voortstroom en niks en niemand ontsien nie. Somtyds voel dit of elke mens net vir homself is.

Dalk is ons kollegas in oorlaaide taxi’s ʼn goeie voorbeeld daarvan. Om in die kortste tyd van punt A na B te vorder en soveel mense as moontlik te vervoer, dikwels sonder inagneming van hul veiligheid, is die agenda. So sny een van daardie voertuie op ʼn draai aan my linkerkant verby en val in die pad wat voor ons albei lê in. Geen verantwoordelikheid nie, voel dit vir my.

Christene leef anders. 



Toegegee, die lewe gebeur, is haastig en daar is nie altyd tyd vir omdraai en gaan haal nie. Jesus het egter anders opgetree.

Ek vermoed Hy het ook afsprake gehad waarby Hy moes uitkom. Sy spreekgeleenthede is gereël en mense wag. Hulle kom te midde van baie persoonlike opoffering by die plek uit waar die onderwysing, prediking, genesing en bediening gaan plaasvind. Hulle het onbetaalde verlof ingesit en reëlings getref dat die kinders by die skool gehaal word. Daar is moeite gedoen en dit verdien respek en agting.

Maar een skaap is soek. Iewers het die outjie die pad byster geraak en met die eerste oogopslag is daar geen spoor van hom nie. Wat die rede is dat die skaap agter geraak het is nie duidelik nie. Wat duidelik is, is dat niemand agtergekom het nie. Hoe het dit dan gebeur dat so ʼn kosbare lewe net kon wegraak?

Ons is darem nog 99 hier, sou die skare kon redeneer. Hy moet maar sien en kom klaar. Iewers sal hy seker spoor kry en uiteindelik by ons aansluit.
Jesus sê, wag. Daar is iets wat julle moet leer. Elke skaap is uniek. Onherhaalbaar en kosbaar. Jy vervang nie ʼn skaap nie. Jy verloor dit vir altyd. Dis eenmalig, unieke en individueel. Ek is nou terug maar indien nie gou nie, sing maar solank. 
Ek gaan my kind soek. 

Jy mag voel dat jy iewers agtergebly het en dat mense jou vergeet het. God soek jou vandag op. Hy roep jou by die Naam. Ek sien jou se Hy. Jy is kosbaar. Ek help jou om by die feesmaal aan te sluit.

LUKAS 15:6
As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment