Monday 30 March 2020

Moenie opgee nie


In die animasie prent, Rango, bevind die “sherif” hom in ʼn onhoudbare situasie. Hy het voorgegee om iemand te wees wat hy nie is nie en boonop nie daarin geslaag om sy mense se waternood aan te spreek nie. Hangskouers loop hy weg van die dorpie waar hy tot nou toe nog baie aansien geniet het. Sy selfbeeld lê aan skerwe en daar is min om voor te lewe.

Verwese loop hy oor ʼn besige pad sonder dat enige iets hom tref. Hy ontmoet “the spirit of the west” wat, nadat hy na Rango se storie geluister het hom aanraai om terug te gaan en dinge reg te maak. Hy gebruik die frase “ No man can walk out of his own story”.



Rango  besluit hy om terug te gaan en die volgende gesprek vind plaas -
Roadkill: What now Amigo?

Rango: No man can walk out on his own story. I`m going back.
Roadkill: But why?

Rango: Because that`s who I am.
In  hierdie tyd van afsondering delf ʼn mens se gedagtes diep in jou diepste menswees. Dinge wat jy liefs vermy en wat die besige lewe op ʼn afstand hou tree na vore. Belangrike lewensvrae kom ter sprake en dring aan op ʼn antwoord.

Wie is ek? Waarheen is ek op pad? As ek so aangaan wat sou die gevolg wees? Moet ek ʼn koersverandering maak?

Is God met my tevrede? Is ek met my tevrede? Gaan ek na hierdie tyd van afsondering net weer my gewone gang of moet iets verander?
Wat moet verander en waarom? Hoe gaan dit gebeur?
Moet ek iemand in my vertroue neem en hieroor gesels?
Dalk voel ʼn paar van ons soos Rango.
Ons het inderdaad “uitgeloop” op ons eie storie.
Wie ons regtig is en wil wees.
Wie God ons gemaak het en wat Hy van ons vra.
Ons roeping, prioriteite, passie en diepste hartoortuiging.
Doodgesmoor en uitgedoof.

Ons moet terug na die sin en rede van ons bestaan, ons prioriteite herdefinieer, ʼn paar lewens veranderende besluite maak, omdraai en  terugdraai.
Die Here is nie weg nie. Hy het sy rug nie op ons gedraai nie. Hy staan soos die pa van die verlore seun en wag dat ons insig kry, eerlik raak, bestek opneem en kies vir die lewe.
Miskien dink jy dis is iets wat jy ook met ander wil deel.

Dalk wil jy gesels. My adres is jannie@toekomsvenster.co.za. Skryf bring perspektief.
Jannie Pelser
Toekomsvenster

No comments:

Post a Comment