Tuesday 17 March 2020

Stilte

Daar is te veel geraas rondom en binne ons.

Stilte is nie iets waarna oumense soek nie, dit is van kardinale belang vir ʼn gebalanseerde en geïntegreerde lewe. Hoe meer geraas daar rondom ʼn mens is hoe meer geraas is daar binne ʼn mens tensy jy geleer het om jou daarvan af te sluit en steeds innerlike kalmte te ervaar.

Dit egter is nie almal beskore nie.



Dit is opmerklik dat daar bykans geen plek meer is waar dit stil is nie. Restaurante se musiek gee jou slegte spysvertering. Die gekerm in die inkopiesentrum laat jou vergeet waarom jy daar is. Musiek in die gimnasium klink soos iets uit die buitenste ruimte. Dit eindig moeisaam en begin dan weer van vooraf.

Selfs in die natuur word jy dikwels bewus van vliegtuie bo jou en vragmotors wat, nie te ver van jou af, al sukkelende die bult op. Maar dit is beter as niks en as jy die geleentheid het om ver weg te gaan waar net die natuur se geluide jou beskore is, is jy ʼn geseënde mens.

Dis die geraas wat jou aan die gang hou, dit definieer jou bestaan en help jou om momentum te behou. Vandat die alarm vroegoggend in jou ore skril totdat die laaste geweerskote op die TV skerm weerklink het klim jy gedaan in die bed en verwag om sommer dadelik aan die slaap te raak. Maar die rommel in jou kop draai soos wasgoed in ʼn outomatiese wasmasjien, eers die kant toe en dan daardie kant toe. As jy lank genoeg lê en worstel gaan dit in ʼn spoedmodus in en spin jou buite beheer. Alles is ineengestrengel en kom met moeite los van mekaar.

Slaap is ʼn wonderlike gawe. Deur die Here se genade gaan lê die stof en staan jy nuut en vars op.

Dis egter van korte duur want jou selfoon skreeu jou wakker , jou tienerdogter se musiek speel kliphard, die motors jaag in jou straat af omdat hulle ʼn kortpad gevind het, die skril van boeta langsaan se nuwe motorfiets sny deur jou, jy beland in die verkeer; die stilte is daarmee heen.

Stilte moet opgesoek word.

Daardie eerste ervaring van stilte is ongemaklik. Dit is kosbaar en skaars.

Mens doen moeite om by stilte uit te kom.

Stilte breek jou spoed en moet gedagboek word.

Stilte is jaloers en deel nie die podium met ʼn geraas nie.

Stilte gesels min maar luister graag.

Stilte is ʼn gawe en skat.

Min vind dit omdat min daarna soek.

Die wat dit vind se lewe word onteenseglik verander.

Miskien wil jy hierna luister.

https://www.youtube.com/watch?v=w9ScMRrqSwo



Groete


Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment