Wednesday 18 March 2020

Ek is nog nie klaar nie.

Die Here het Hom onherroeplik aan sy kinders, gesamentlik en individueel verbind. Hy het Hom met die skepping, die heelal, die geskiedenis, die begin en afloop van alle dinge verbind. Hy is in talle opsigte die Inisiatiefnemer, die Oorsaak en Gevolg. Hy is ons altyd voor en wat verby is staan onder sy beheer. Alles werk ten goede vir die wat Hom liefhet.

Die belofte dat God wat Hy in sy kinders se lewens begin het sal “klaarmaak” troos en bemoedig. Somtyds is die teleurstelling oorweldigend. Dit hou verband dat jy gehoop en geglo het dat jy nie weer so maklik sal toegee aan die ding wat jou voortdurend laat struikel nie. Jy het sover as wat menslik moontlik is jou tuisgemaak in sy beskermende krag en sy beloftes omgord. Jy het regtig geglo en toe kom die versoeking en jy gee weer toe. Dit hoef nie net sonde te wees nie maar enige saak waarvan jy begin glo het dat jy die geheim daaragter nou verstaan. Nou sit jy in sak en as, gedagtes maal deur jou kop, die duiwel buit die situasie wreed uit, jy is mismoedig en onvervuld. Jy oorweeg opgee, handdoek ingooi, wegstap, vergeet, dit afskryf. Immers jy het probeer. 



Dallas Willard definieer genade as “no more effort”. Dit is dalk steeds ons probleem. Te veel “effort”.
Soos John Ortberg dit stel, nie “try harder” nie maar “try softer”. Ons is in opleiding. God stel waarde daarin dat ons aanhou.
Mislukkings is prima leergeleenthede. Weer probeer, meer aangewese op sy krag en vermoë, minder gespanne en effens meer bedag, so gee ʼn mens die volgende tree. Dis nie “misluk” wat die probleem is nie, dis opgee. So gaan ons die negatiewe in ons lewe nie bemagtig nie. 

Jesus het opgestaan. 
Ek staan op. 
Dieselfde krag wat Hom opgewek het uit die dood is in my werksaam.
Dis explosive. 
Nee wat, taboe met die negatiewe gedagtes. 
Ek is syne en Hy is myne. 
Hy gee nie op met my nie, ek ook nie. 
FILIPPENSE 1:6
Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment