Wednesday 4 March 2020

Soengroet taboe!!

Van die vernaamste nuus die afgelope dae is sekerlik dat Suid Afrika ʼn tegniese resessie binnegegaan het a.g.v. twee kwartale met negatiewe groei. Ek is nie ʼn ekonoom nie en presies wat die uitwerking daarvan op Jan en Alleman gaan wees is ietwat duister. Dat dit egter tot verdere prysstygings gaan aanleiding gee is sekerlik gewis.

Die rol wat beurtkrag en onbetroubare energie verskaffing speel maak dat ʼn oplossing vir die energie krisis in Suid Afrika dringend gevind moet word. Mens hoef nie baie slim te wees om te weet onsekerheid in die verband beleggersvertroue in ons mooi land verder kniehalter nie. Die regering se vasklou aan beheer, ook wat SAL en ander semi staatsinstellings betref, dra by tot verdere armoede en werkloosheid. Om Eskom se skuld uit Staats- en ander pensioene te delg maak ʼn mens bekommerd. Om in jou ou dag op straat te sit is nie ʼn mooi vooruitsig nie

Christene moet bid dat die Here wysheid gee.



“Aarde-uur” waar bewoners van ons mooi planeet aangemoedig word om komende Saterdag, 28 Maart, die ligte vir ʼn uur af te skakel maak geen appél op ons nie. Ons skakel die ligte gereeld af, nie uit keuse nie maar Eskom dagboek verskeie sulke geleenthede op ʼn gereelde basis. “Aarde uur” is egter op sy kop gekeer en planeet bewoners word aangemoedig om komende Saterdag die ligte vir daardie uur aan te hou. Ons sal net eers die nuutste skedule moet raadpleeg om te sien of ons hier in Suid Afrika sal kan deelneem.

Die Korona virus soos dit populêre benoem word het geen ontsag vir grense, klas, stand, programme of projekte nie. Met nie minder as 81 lande waar die virus werksaam is en as ek dit reg het ongeveer 90000 infeksies steier die ekonomie en word produksie erg ingekort. Produkte vlieg van winkelrakke soos mense die ergste voorsien.

Ons is intens bewus van die realiteit dat ons in ʼn globale wêreld woon waar niks meer in isolasie gebeur of van ander weggehou kan word nie. Fop nuus bemoeilik die taak van owerhede ook in Suid Afrika. Geen bevestigde gevalle van die virus is egter in Suid Afrika aangemeld nie ten spyte van wat op sosiale media gesê word. In stede daarvan dat mense onwaarhede die wêreld instuur sal dit beter wees om te bid dat die Here, die bron van alle wysheid, aan wetenskaplikes genade bewys dat hulle ʼn teenmiddel kan ontwikkel.
Ons het die Here nodig. Daaroor hoef niemand te wonder nie.

Bykans alle vorme van groet is taboe. Internasionaal is daar verskeie maniere waarop mense mekaar groet. Die gebruiklike soen, neuse vryf en omhels is nou van die baan. Voete teen mekaar skuur is klaarblyklik nou die veiligste of ʼn versigtige “pat on the back”.

Die baie bekende en geliefde Lance James is gedurende die afgelope week oorlede. As kinder sanger het ek die voorreg gehad om met Min Shaw en Lance James op verskeie plekke in Suid Afrika op te tree. Ek onthou treffers soos Jy is my liefling en Bymekaar asof ek gister na hulle geluister het. Big Len Brauer was ʼn talentvolle klavierspeler en ander kunstenaars het ons vergesel. Colin Froneman was ons promotor en ons het dikwels lang paaie aangedurf om iewers op ʼn plek te gaan optree.

Daardie dae was verhoogoptredes gesog en mens het na die geleenthede gestroom. Vandag is gehore bederf met TV en verskeie kunstefeeste waar talentvolle kunstenaars gehoor kan word. So verander die wêreld en ons moet bybly.

Een van die bederfies vir my as jongseun sanger, (julle onthou seker Nederland se Heintjie Simmons en sy bekend Liefste Madelein), was om die Heidelied saam met Tannie Min soos ek haar geken het te kon sing.

Ja, those were the days en mense van daardie era raak al hoe minder.

Ek het die voorreg gehad om een van Lance se baie bekende liedere op te neem en dank hom uit my hart vir hierdie goue treffer wat sy waarde, impak en betekenis nie kan verloor nie omdat dit ons help om dankie te sê.

Die gevaar is groot dat ons bederf kan raak. Die wonder van ʼn nuwe dag, van vriende en familie, van geleenthede en kanse, van geloof in die God van die Bybel en sy Seun gaan by ons verby.


“Dankie vir hierdie skone more
Dankie vir hierdie nuwe dag.
Dankie dat U oor my gewaak het
Deur die donker nag”.

Die lied herinner my aan die mooi woorde van Ps. 121. Die Beskermer van Israel sluimer en slaap nie. Wanneer ek as dominee by huisbesoek aan huis van lidmate gekom het en daar kinders was kon ek die versoeking om hierdie Psalm te lees nie weerstaan nie. Stel jouself dit voor. Daar is Iemand wat nog nooit geslaap het nie. Boonop is Hy miljoene jare oud, trouens, Hy is sonder begin en einde. Hy word nooit vaak nie en is altyd by en met sy kinders. Wanneer ons saans gaan slaap wens Hy ons ʼn goeie nagrus toe en wanneer ons wakker word soggens verwelkom Hy ons vriendelik en verseker ons van sy guns en genade.

Te midde van Grondhervorming en die verandering van Art 25 met die gepaardgaande onsekerheid daaraan verbonde, ekonomiese realiteite, Eskom wat laat kom indien hy hoegenaamd aan kom , studente opstande en tegniese resessies is God steeds wakker om sy beloftes in ons lewens ʼn werklikheid te maak.

Niemand wat sy vertroue in die Here stel word teleurgestel nie lui Ps. 34.

Vertrou op Hom en dank Hom vir sy genade.


Die laaste versie van die bekende “Dankie” in baie betekenisvol omdat ek gister oggend vir ʼn vierde keer oupa geword het. Milané is ons eerste dogtertjie. Daarom sing en vandag die versie van “Dankie” met oorgawe


“Dankie vir elke kinderlaggie.
Dankie vir elke sonnestraal.
Dankie dat ek my weg terugvind
Waar ek ook al dwaal”.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment