Wednesday 4 March 2020

Die wonder van nuwe lewe.

Vroeg gisteroggend het Milané Pelser na nege maande se wag haar verskyning gemaak. 
Die wag was die moeite werd. Die mooiste dingetjie ooit met fyn gelaatstrekke, piepklein handjies en voetjies 
maar volmaak aanmekaar geweef soos Ps. 139 ons leer.

God se handwerk is volmaak en ʼn mens staan in verwondering voor sy guns en goedheid.

Die wete dat die Here met hierdie lewetjie ʼn besondere plan het is oorweldigend en waar. Jer. 29 herinner 
ons daaraan in die baie bekende vers. “Ek weet”, sê die Here.



















Ons leef in ʼn onseker wêreld en dit is die konteks waarbinne ons kinders grootword. 
Alles het kompleks geword, die uitdagings is oorweldigend en as volwassenes die lewe as ʼn 
soms moeisame oefening beleef, hoeveel te meer ons kinders.

Ouers ( en grootouers!)  het ʼn fenomenale verantwoordelikheid om hul kinders vir hierdie tyd groot te maak, 
nie deur hulle in watte toe te draai en van alles te beskerm nie, hoe graag ʼn mens ook al wil. Ons moet deur 
ons lewe en voorbeeld demonstreer hoe lyk ʼn lewe in die kragveld van God se Gees, wat dit beteken om met 
geloofsmoed te lewe en die Heilige Gees elke dag te vertrou.

Ons mag ons kinders nie faal nie en gedagtig aan ons eie broosheid ons totaal verlaat op die bemagtiging
 van die Heilige Gees.

Jesus het lank terug gesê, sonder MY kan julle niks doen nie. Hy het ook gesê, laat die kindertjies 
na My toe kom en verhinder hulle nie.
Ons besef dit maar alte goed.

Derhalwe dat ons vandag bid, Here, wees ons toevlug, Beskermer, Veilige vesting en Bron van Krag.
Wees dit ook vir ons kinders.

Laat U Koninkryk kom.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster


No comments:

Post a Comment