Monday 2 March 2020

Genade onbeskryflik groot

Wat is genade?

Probeer dink aan sinonieme wat iets vergestalt van hierdie eg Christelike konsep. Onverdiende guns, liefde, aanvaarding, begrip, deernis, ongee, gasvryheid kom by my op. Dallas Willard se dit mooi “ the pressure is off. In Scripture grace is God`s action in your life to accomplish what you cannot accomplish on your own” ( Renovation of the heart)

Uitsprake soos “God is ʼn God van genade” is oor bekend.

Ons sing dit – “genade onbeskryflik groot het U aan my bewys. Verlore seun ʼn wegloopkind, weer in die Vaderhuis”.

Die lirieke herinner aan die storie van die verlore seun. Daar is verskeie woorde waarmee ʼn mens sy optrede kan beskryf. Daar is haas nie ʼn sonde en oortreding waaraan hy homself nie skuldig gemaak het nie.

Arrogansie, gebrek aan eerbied en waardering vir sy vader, losbandig, ongedissiplineerdheid, ens.



Ek lees tussen die lyne maar vermoed dat die dinge waarmee die seun homself besig gehou het in die tyd dat geld volop was en sy pa se toesig ontbreek het ʼn interessante sepie sou uitmaak. Soos die Prediker was daar min wat hy homself nie veroorloof het nie. Die parameters van sy opvoeding het ver geskuif en van die gebaande wee het min oorgebly. In moderne idioom sou seksuele losbandigheid, eksperimentering, promiskuïteit, spandabelrigheid, ens. waarskynlik ingesluit gewees het.

Toe op ʼn dag besef hy sy nood en soek sy toevlug by sy pa.

Baie sou redeneer dat hy sy kans gehad en verbrou het. Dat dit onregverdig is teenoor die pa en die ander seun dat hierdie verkwister nou hulp en genade verwag. Hy het immers sy bed gemaak en moet nou daarin slaap soos die bekende spreekwoord lui. Hy hoort nie in goeie geselskap nie.

Ander word teen sy gedrag en optrede gewaarsku en geen goeie geselskap gaan met hom om nie. Niemand praat oor hom nie en vir alle praktiese doeleindes is hy dood.

Nie by God die Vader nie!

Nie by die Pa wat nie kon wag dat sy seun huis toe kom nie!

Nie by ʼn vader wat bly glo en hoop het nie!

“Ek het gesondig” was genoeg.

Die vetgemaakte kalf is geslag, ere klere word hom aangetrek en ʼn ring aan sy vinger rond die verwelkoming af. Die bure word genooi want die hy was verlore, effektief dood maar lewe weer. Dit is genade.

Gun ons mense wat afgedwaal het God se genade? Wat is ons definisie van afdwaal en is dit hoe God oor daardie mense dink? Is nederigheid, net omdat ons nie alles weet en verstaan nie eerder gepas nie?

Gun ons die onaansienlikes, die wat ons besluit het nie ingesluit kan word nie, die waaroor vergaderinge gehou word en die kerk skeur, die genade van God?

Wil ons God se program van genade vir hom reël of kan ons Hom daarmee vertrou?

Wil ons God speel of veel eerder onthou waar die Here ons kom haal het, verreken wat van ons sou geword het as dit nie vir God se genade was nie?

Kan ons verder, verby kyk en die mens, God se mens raaksien.

Moenie ander uitsluit en die genade van God ontsê nie.

Staan opsy.

God is besig.


Groete


Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment