Thursday 27 February 2020

Is ons een in die Gees?

Is ons een in die Gees?
Nou ja, teen alle verwagtinge inx was die begrotingsrede van die minister van Finansies nie teleurstellend nie, wel ten minste nie vir Jan en Alleman nie. Met ʼn “katspoegie” meer besteebare inkomste in die sak van gewone mense word die ekonomie stimuleer en lig die gemoedere van die publiek aansienlik. Petrol is wel duurder om nie van sondebelasting te praat nie.


Paulus maak dit effens moeilik met die raad aan Timoteus dat ʼn bietjie wyn goed is vir sy herhaalde ongesteldheid.

1 Tim.5:23 Moenie langer net water drink nie. Neem ʼn bietjie wyn vir jou maag en herhaalde ongesteldhede.

Let op Paulus sê darem ʼn “bietjie wyn”. So sal die impak van die belasting daarop darem nie te erg wees nie anders is jy weer net so siek as wat jy was voor jy die wyn gedrink het.
Hoor ek iemand sê, ongeag wat so ʼn alkoholiese versnapering kos, dit bly ʼn winskoop.
Oor die res van die begroting kan ek my nie regtig uitlaat nie. Dit klink tog wel of die meeste rolspelers nie te erg omgekrap is nie.
Die Korona virus stabiliseer klaarblyklik in China maar het na verskeie ander lande uitgewyk. Dit laat ʼn mens jou eie kleinheid en nietigheid opnuut in oënskou neem. Ons mag mense in die buitenste ruimte laat rondstap maar ons staan tans bykans weerloos voor hierdie aanslag. Ons bid dat die Here wysheid gee en dat daar binnekort ʼn effektiewe teenmiddel beskikbaar sal wees.
Ons deel die hartseer van die soveelste gesin wat ʼn kind aan die dood moes afstaan maar aan onnatuurlike oorsake. In die jongste geval is ʼn pragtige onskuldige dogtertjie, die agt jarige Tazne van Wyk van Elsiesrivier, wreed deur ʼn man vermoor wat ʼn geskiedenis van geweld het en nie op parool vrygelaat moes gewees het nie. Mnr. Ramaphosa het sy simpatie met die hartseer familie betuig en belowe om aandag te gee aan die stelsel wat al meer as een keer onskuldige mense met hul lewens laat boet het. Niks kan hierdie kindjie terugbring nie maar mag daar erns wees om soortgelyke situasies in die toekoms ui te skakel.
Die vergadering van beswaarde lidmate en dominees van die NGK wat in Pretoria gehou is het wye belangstelling uitgelok. Sedert die Algemene Sinode ʼn besluit geneem het oor selfde geslag verbintenisse en aanverwante sake was dit onstuimig in die kerk.
Die feit dat mense praat sê dat die teologie, uiteindelik die eer van God vir hulle belangrik is en dat hulle Hom nie wil teleurstel nie. Maar dit geld tog van albei partye in so ʼn strydgesprek met name wanneer ons met die kerk te doen het. Die vraag is hoe ons in ʼn komplekse wêreld as kerk op geloofwaardige wyse wil en kan pad aanwys.
Die hartseer is dat die ongelowige wêreld nie meer veel respek en agting het vir die kerk nie. Die NGK het ʼn baie sterk missionale bewussyn en wil die wêreld ʼn beter plek maak. Ek glo dit is die hart van alle Christelike gemeentes wat erns maak met God se Woord. Twis en verdeeldheid ondergrawe ongelukkig die kerk se getuienis in die wêreld en die enigste manier om dit te ontkom is om vir mekaar ruimte te gee.
Sekere sake staan in die kern van ons verstaan van die Bybel. Daaronder en in die besonder Jesus Christus as die gekruisigde en opgestane Here soos ons dit telkens in die 12 artikels bely. As ons dit op die altaar plaas is ons nie meer by die Bybel en Evangelie nie.
Alhoewel daar, om dit sagkens te stel, beskuldigings is dat die NGK hom aan liberale teologie skuldig maak moet ek eerlik waar sê dat ek in my meer as 35 jaar as predikant in hierdie kerk nog nie ʼn klas, lesing of preek bygewoon het waar die Godheid van Jesus ontken, sy wonders bevraagteken, die opstanding ongedaan of die wederkoms in twyfel getrek word nie. Dit is een pluimpie in die hoed van die NGK. Jesus staan voorop.
Hoe dan gemaak oor die goed waarmee almal nie saamstem nie?
Respek en agting vir die integriteit van medegelowiges staan voorop. Ons gaan mekaar nie verketter nie, nie in die naam van die Here nie. Nederigheid wanneer dit kom by ons verstaan van die Evangelie en hoe dit in ons post moderne wêreld beslag moet kry is noodsaaklik. Diensbaarheid teenoor mekaar staan voorop.
Die Bybel sê gaan mekaar in eerbetoon voor. (Rom.10:12) Liefde bo alles.
Jaco Strydom van Echo Jeugbediening wys in ʼn artikel daarop dat Jesus in die vier Evangelies, seker die grootste bron dokument van die geloof, nie een keer na gays verwys nie. As dit dan so belangrik was sou Hy tog moeite gedoen het. Die ander tekste in die Bybel is vatbaar vir interpretasie.
As ons oor sonde wil gesels dan moet ons konsekwent wees. As sommige nie op die kansel mag verskyn oor hul sonde nie moet dit van alle dominees waar wees. Dit beteken doodgewoon dat ook ek nooit die voorreg sou kon hê om te sê ‘so sê die Here nie’.
Dit terwyl kinders honger gaan slaap, klaskamers uitmekaar val, mense in sub ekonomiese omstandighede woon, bedelaars by die dag toeneem en infrastruktuur en dienslewering uitmekaar val om maar ʼn paar sake te noem. Is dit regtig waarmee die kerk besig moet wees, is die ongemaklike vraag waarmee ek worstel.
Ten slotte wil ek ons luisteraars uitnooi om die film The imitation game met Benedict Cumberbatch as Allan Turing te gaan soek en kyk. Dit is deel van die Netflix spyskaart maar is seker oral beskikbaar. Dit gee ʼn blik op die innerlike worsteling van die mense wat die kerk uitsonder vir onophoudelike gesprek, vergaderings en twis.
We are one in the Spirit we are one in the Lord
And we pray that our unity will one day be restored
And they`ll know we are Christians by our love.
Yes they`ll know that

No comments:

Post a Comment