Tuesday 24 March 2020

Die nuwe normaal

Pad na genesing?

Die voorblad van Beeld bevat ʼn foto van ʼn leë restaurant ( die uitwerking van Covid-19) met die woorde “die nuwe normaal” daarby.
Dat ons wêreld, ook ons persoonlike en gemeenskaplike kontekste nooit weer dieselfde sal wees nie, staan reeds soos ʼn paal bo water. Nog nooit was daar so ʼn mobilisering van die mensdom ( die waarde van tegnologie onder andere) soos tans nie. In ons land beïndruk die wyse waarop die saak nie alleen van owerheidswee bestuur word nie maar ook alle sektore van die samelewing wat opdaag om ʼn gemeenskaplike vyand die stryd aan te sê.



Wat Suid Afrika betref  wil ek graag hoop dat die nuwe normaal die volgende sal insluit –

-              ʼn Stadiger pas wat ʼn mens laat kennis neem van die klein kosbaarhede in die lewe. “Stop and smell the roses”.
-              ʼn Nuwe fokus op die noodsaak van gesonde gesinsstrukture, van bymekaar uitkom, van saam eet, leef, kuier, speel en beplan.
-              ʼn Nuwe bewuswording van ons gemeenskaplike uitdagings en stryd. Die lewe is nie altyd vriendelik nie maar  ons is aan mekaar gegee om ander op hierdie reis te begelei.
-              ʼn Gees van versoening en eenheid. Ons deel een spasie, Suid Afrika, sy bronne, geleenthede, kulture, verskeidenheid en unieke kosbaarhede met mekaar.
-              ʼn Gees van onderskeiding om soos die Bybel dit stel te besluit wat regtig van belang is. Stry is meestal tydmors en nie goeie rentmeesterskap nie. Daar is belangriker dinge.
-              ʼn Waardering vir die gawe van die lewe en die kortstondige kwesbaarheid van alles.
-              ʼn Gemeenskaplike profetiese stem teen eksponente (politici)  wat burgers in kampe wil verdeel en teenoor mekaar wil opstel. Mag die volgende poging met brute weerstand begroet word. Ons het by wyse van spreke “by die dood omgedraai”. Ons gaan ons nie weer laat verdeel nie!!
-              ʼn Gestruktureerde en verantwoordelike optrede van regeringskant teen die ander dinge in ons samelewing wat dringend aandag verdien waaronder werkloosheid, traak my die agtigheid met betrekking tot dienslewering, aansteeklike onverdraagsaamheid teen korrupte optrede en ʼn algehele moratorium op geweld teenoor vroue en kinders, ja, alle mense, met gepaardgaande optrede om dit af te dwing waar nodig. Ons het immers gesien waartoe die owerheid in staat is.

Wie weet, die nuwe normaal kan ons op ʼn pad van genesing en voorspoed plaas.
Mag ons nie na die gebaande wee terugkeer nie.


Jannie Pelser
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment