Tuesday 24 March 2020

21 Dae van afsondering

Te midde van paniek aankope en ʼn geskarrel om alles in plek te kry vir die groot kontak vas ( bly by jou huis) dink ʼn mens baie spesifiek aan die geestelike sy van alles wat gebeur. Ons lewe geïntegreerd en alle komponente van ons bestaan speel in op wat ons tans beleef. Intellektueel probeer ons sin maak van alles. Sosiaal is ons gefrustreerd maar besef die absolute noodsaaklikheid van afsondering. Fisies dink ons aan maniere om ons energie sinvol te kanaliseer sodat ons darem snags aan die slaap kan raak. Geestelik worstel ons met die God faktor. Sien gerus in vandag se Beeld Christina Landman se bydrae onder opskrif “hoe leer ons God ken in die tyd van die virus?”



Die owerhede vertrou, ons ook, dat die verspreiding van die Covid-19 virus tot so ʼn mate gekniehalter kan word dat dit uiteindelik hasepad kies. Derhalwe is dit uiters noodsaaklik dat elke burger deelneem aan hierdie oefening. Juis daarop vind ek die berig dat vakansiegangers na kusdorpe en stede stroom ontstellend en onverstaanbaar. (Netwerk 24)

Selfsug is ons grootste vyand en dit diskrimineer nie tussen mense nie. Ons sukkel almal daarmee. Mag ek byvoeg dat dit ook nie die gemarginaliseerde menigte is wat vakansie kan bekostig nie. Privilegie is ʼn konsep wat mense kwaadmaak maar hier blyk dit duidelik die geval te wees juis terwyl die randfigure van ons samelewing tans in besonder onder beleg is. (Vigs, tering, armoede, kosskaarste, werkloosheid, ens.) Ons selfsugtige optrede kan veroorsaak dat honderde duisende mense wat nie toegang tot die voorregte het wat ons het nie aan die kortste end trek. Vergewe my hierdie reguit praat maar dalk is dit tyd om volstruispolitiek te los. In die woorde van ʼn artikel  in vanoggend se Beeld beteken afsondering “sluit die deur en bly binne”. ( ene Mnr. Pretorius se woorde “Pretorianers slaggereed  p. 5) 

Ek gaan poog om gedurende hierdie 21 dae net soveel getalle uit die Bybel af te lees, die konteks te bestudeer en die boodskap deur te gee. Dit is interessant dat van die syfer een tot by een en twintig almal in die Bybel voorkom. Die vraag is dus waar en in watter konteks word 3,7,12 en 18 bv. gebruik. 

Derhalwe ʼn uitnodiging om saam te reis gedurende hierdie drie weke van tuis bly.

Terloops, ek verstaan dat die 21 dae effektief ʼn minuut na twaalf Donderdag nag, dus eintlik Vrydagoggend begin. Het ek dit reg.

Reis, leer, groei, geniet, rus saam en nooi ander om deel daarvan te word.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment