Monday 24 February 2020

Vat my medalje

 Die mooiste storie in die Rapport van verlede Sondag. Ene Lwandle Ngwneya van Secunda en Herco Radley van Trichardt neem aan die 150 meter hekkies wedloop deel. Vroeg in die wedloop is Lwandle reeds ver voor toe hy oor ʼn hekkie val en die ander atlete hom verbysteek. Hy moes toe met ʼn sesde plek tevrede wees terwyl Herco derde plek inneem. So kwalifiseer Herco vir die verdere uitdunne maar sy eweknie nie.

Nadat Herco van die podium afstap waar hy ʼn medalje ontvang het stap hy reguit na Lwandle toe en oorhandig die medalje aan hom. “Hy het baie goed gedoen en verdien die medalje meer” het Herco met trane vlak in sy oë aan sy ma vertel. “Ek sal die dag nooit vergeet nie” sê Lwandle met ʼn groot glimlag op sy gesig en omhels sy nuwe vriend.



Wil ons nie klaar kry met die wedywering, afguns en verwydering tussen mense nie?

Apartheid as misdaad teen die mensdom is weer warm nuus. Vandag distansieer ʼn aantal prominente persone hulle weereens daarvan (Beeld voorblad berig) en bely die onreg wat die stelsel ander landsburgers berokken het. Dit alles goed en wel maar dade spreek harder.

Miskien kan die kinders ons voorgaan in versoening, omgee, kleurblindheid en geregtigheid.

Dankie Herco. Jou optrede is ʼn bousteen na ʼn nuwe, beter en gesonder Suid Afrika.
2 Kor. 5:13 God het aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment