Wednesday 19 February 2020

Die kerk se roeping

Niemand kan sê dat dit saai en oninteressant is om in Suid Afrika te leef nie. Daarvoor is daar te veel opwinding en gebeure.


Nie alles wat gebeur is positief nie maar tenminste hou dit ons aan die praat. Veronderstel ons het in ʼn land gewoon waar alles vlot verloop het soos in die Toyota advertensie – alles loop reg, altyd reg Toyota. Ek weet egter nie of dit altyd reg loop met Toyota nie. Ek vermoed daar is ook van tyd tot tyd probleme.


Sedert ons verlede week gesels het, het die SONA toe plaasgevind. Ons het gehoop dat beloftes met dade aangevul sou word. Sommige reken dat dit die beste staatsrede tot nog toe was. Ander het hulle bedenkinge. Die hoogste bome vang die meeste wind en om in die warm stoel te sit kan seker nie lekker wees nie.


Die onverkwiklike optrede van die EFF is vars in die geheue. Ook tydens die bespreking van die staatsrede die afgelope week het hulle die vergadering verder ontsier. Wat ʼn dubbele teleurstelling.


Politiek en parlement het ʼn nuwe laagtepunt bereik toe beskuldigings van vrouemishandeling oor en weer geslinger is. Wat die internasionale wêreld van ons moet dink weet ek nie. Dit is skandelik en daar kan geen verskoning aangebied word nie.


Wat die EFF in elk geval by die debat gesoek het weet nugter. Hulle het die staatsrede in elk geval nie bygewoon nie en kon op geen geloofwaardige wyse aan die bespreking deelneem nie.

Die jammer uitlating van mnr. de Klerk na die tyd met verwysing na apartheid en, in ag genome die onvoorwaardelike verskoning wat aangebied is, kon dit ver van aangenaam gewees het om so deur die EFF tydens die staatsrede uitgesonder en geviktimiseer te word. Ook die staatspresident, Mnr. Ramaphosa, het aan hom nie die erkenning gegee wat hom toekom vir sy rol in die demokratisering van Suid Afrika nie maar beskou dit as ʼn noodwendigheid.


Gee erkenning waar dit hoort en wees gou om te vergewe. Onnodig om te sê dat die EFF sy verskoning nie aanvaar nie. Hulle het klaarblyklik die vermoë om tot in die diepste wese van ʼn mens in te kyk. Hulle weet beter as almal van ons.


Ons kan mekaar nie weg wens nie. Ons het mekaar nodig. Daar moet dringend ʼn gesprek aan die gang kom van hoe ons die pad verder met mekaar wil stap. Ons moet selfs ʼn tentatiewe tydraam daaraan koppel. Ons moet iewers heen op weg wees anders gaan ons vir ʼn lang tyd in stormsee vasgevang wees sonder dat ons enigsins vorder.


Wanneer daar oor die kerk berig word moet dit vir die regte redes wees. Hoe kinders van die Here besig is om die wêreld, met verdrag deur die inwerking van die Heilige Gees in Koninkryk verander, behoort die narratief te wees. Soos met die geboorte van die kerk in Handelinge moet die volk die kerk as ʼn betekenisvolle en navolgenswaardige rolspeler in die Suid Afrikaanse konteks sien.



Ongelukkig is dit waar dat die kerk somtyds nie geloofwaardig is in sy getuienis in die wêreld nie. Toegegee die media sensasionaliseer sake en wat gesê word moet seker met ʼn knippie sout geneem word. Ek is egter daarvan nie oortuig dat die voortslepende debat oor mense se seksuele voorkeure en oriëntasie langer op die kerklike agenda moet wees nie. Dit is wreed om so geobjektiveer en bespreek te word. Ons moet nie sout in wonde vryf nie maar genesing bring.


Mag die Here sy kerk bewaar. Mag ons by vernuwing ontdek wat die groot saak is waarmee ons vertrou word in hierdie wêreld. Mag ons die eenheid onder gelowiges jaloers op pas en saam kniel by die leë graf waar die oorwinning behaal is.


Die EFF se gedrag laat my dink aan kleuters se optrede as hulle nie hul sin kry nie. Ek weet nie of ons luisteraars die term vloermoer ken nie maar dit is klaarblyklik die Afrikaanse vertaling vir tantrum. Die enigste antwoord vir so ʼn vloermoer gooiery sal elke ouer weet is ʼn bietjie gesonde dissipline. Daar is ander mense in die huis ook. Hulle het ook regte en voorregte. Deur selfsugtig daarop inbreuk te maak kan nie regverdig word nie.


Watter lied wil ek aan ons kollegas in die EFF opdra vra jy. Met apologie aan Andrew Loyd Weber en Tim Rice


Don’t cry for me little children

The truth is you never grew up

All through your wild days

Your mad existence

Please keep your promise

Please keep your distance


Groete


Jannie Pelser

Organiseerder

ToekomsVenster




No comments:

Post a Comment