Tuesday 25 February 2020

Sal jy die werk doen?
















Wat binne is sal buite manifesteer. Dit is die eenvoudige waarheid van menswees. 
As wat buite uitkom nie tot verheerliking van God en die opbou van jou medemens is 
nie moet aandag gegee word aan wat binne aan die gebeur is. Jesus het dit self gesê.

Matteus 15
18
Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak.
19
Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.


Bid dat die Here jou binnekant sal verander is inderdaad die regte ding om te doen. 
Hy is buitegewoon gretig om die karakter van sy Seun in jou na vore te laat tree. 
God wil hê dat ons toenemend, weliswaar gestadig omdat dit ʼn lewenslange leerskool is, 
soos sy Seun sal praat, doen, kyk en reageer. Ten minste weet ons waarheen ons op weg 
is en elke gelowige begeer om soos Jesus te wees. Die Gees verander mens maar doen dit 
nie sonder die mens nie. Ons probleem is dat ons getuig dat ons reeds lankal oor ʼn saak bid 
maar dit verander nie. Ek bid bv. Dat die Here my humeurigheid wat sommer vir geen rede of 
die minste provokasie opvlam sal verander. Dit gebeur egter nie en ek gooi my hande in 
radeloosheid in die lug. Dit gaan nie verander tensy ek dit VIM nie. Daar moet ʼn visie (V) wees 
van ʼn veranderde lewe. Daar moet intensie (I) wees om dit na te jaag en nie op te gee nie. 

Metodes, middele (M) wat deur die Heilige Gees tot my beskikking gestel word moet aangegryp 
en beoefen word. Dit sluit in Woordstudie in besonder in. Tyd alleen met God en sy Woord. 
Dit sluit geloofsgewoontes in wat my hiermee kan help. Stilte, gebed, vas as die Here jou so lei. 
Inoefening, alternatiewe gedrag bedink en implementeer. Wegbly van die versoeking en 
betekenisvolle dinge in die plek daarvan stel. So aanvaar ek verantwoordelikheid vir dit wat 
hierbinne aan die gang is. Daar mag spinnerakke wees wat professioneel aangespreek moet word. 
Dit is die volwasse ding om te doen.

Hoe lyk die buitekant?
Wat sê dit van die binnekant?
Hoe lank bid jy al?

Wat het jy al implementeer ten einde ʼn medewerker in hierdie transformasie te word?
Die Here help die wat hulleself help word gesê.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster


No comments:

Post a Comment