Thursday 6 February 2020

Oor fopnuus en Zumaïtus

 ʼn Mens is ʼn interessante wese en die hunkering na opwinding veroorsaak dat mense sommer enige nonsens glo. Fopnuus, twak, onsin, fabrikasie en wolhaarstorie is dieselde ding.

Dit is ondenkbaar dat mense so goed en liggelowig is dat hulle bereid is om enige, selfs ongetoetste en meermale duidelik, feitelik nie korrek nie, tog te akkommodeer.

Ek wonder waarom mense twak so maklik glo. Van tyd tot tyd vlam berigte van tergstellings in Indië en Irak, ʼn rolprent wat Jesus as ʼn homoseksueel aanbied en die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel as lasterlik, weer op.



Dit word energiek versprei met ʼn nota dat dit aan tien mense gestuur moet word, dat die ketting nie gebreek moet word nie en in sekere gevalle seën soos onverwagte rykdom verwag kan word.

Dit irriteer my grensloos wanneer mense my manipuleer met sulke watsup boodskappe wat jou emosioneel probeer skuif om te doen wat die ander persoon wil.

Christene veral moet leer om baie noukeurig vas te stel of die bron betroubaar is. Enige beriggewing wat nie die bron deurgee nie moet uit huis uit as verdag beskou word.

In die jongste tyd is dit die Koronavirus wat nie alleen wêreldmoondhede op hol het nie maar veral vir ʼn dosis onbevestigde kwaadwillige boodskappe sorg. Netwerk 24 berig dat mense foto’s en nuus manipuleer ten einde fopnuus te versprei.

Dit bemoeilik die taak om die gesondheid van ander mense te verseker. Op datum het 563 mense gesterf en meer as 28000 mense, meeste van hulle in China, is het die siekte opgedoen. 20 lande het reeds gevalle aangemeld en 2 mense is buite die grense van China oorlede. Duisende passasiers op twee plesierskepe is in isolasie geplaas. Hulle het inderdaad veel meer gekry as waarvoor hulle betaal het.

Sosiale media het enorme voordele maar dit kan dodelik wees as dit vir die verkeerde doel aangewend word. Ek herinner aan Eks 20 wat sê “Jy mag nie valse getuienis lewer nie”.

Die Hooggeregshof het ʼn bevel vir inhegtenisname uitgereik sou die siek nota van ons voormalige staatspresident, mnr. Zuma,  blyk nie in orde te wees nie. Dat mnr. Zuma elke truuk in die boek probeer het ten einde sy dag in die hof, iets waarvoor hy homself beywer het, te ontduik is algemene nuus. Hy sal ons dit nie kwalik neem dat ons sy sg. siekte en behandeling in die buiteland met ʼn knippie sout neem nie. ʼn Briefskrywer verwys na ʼn nuwe siektetoestand genaamd ‘Zumaitus’ en beveel aan dat mense in Kuba navorsing gaan doen oor hoe dit hier plaaslik behandel kan word.

Dalk gaan geregtigheid tog uiteindelik seëvier in Suid Afrika. Miskien kan ons begin droom van ʼn korrupsievrye Suid Afrika. Miskien sal die kansvatters tog uiteindelik aan die pen ry. Dit beteken nie dat Christene hulle verlustig in ander se verleentheid nie maar onskuldige mense ly terwyl geldsug onversadigbaar gedy.

Eskom bly ʼn kopseer. Sprake van tariefverhogings stuit ʼn mens teen die bors as ʼn mens in ag neem hoe duur krag reeds geraak het en dit te midde van die onbetroubaarheid daarvan.
Ons hier in Krugersdorp wonder reeds wanneer en hoe ons Eskom so kwaadgemaak het dat ons tydig en ontydig met kragonderbrekings worstel. Geen motorhuisdeur of hek  wil meer oopmaak nie omdat batterye afgeloop is en daar nie genoegsame tyd is om te herlaai nie.

Skrik en nou die nag wakker toe die ligte skielik aangaan. Ons het die kamerligte, ʼn hele klompie van daardie klein kol liggies in die plafon, vorige aand aangeskakel maar met die kragonderbreking was dit uiteraard steeds donker. Ons het egter nagelaat om dit weer af te skakel.

Skielik om middernag gaan al daardie liggies aan en verbeel ek my dat ek op die operasietafel wakker geword het. Ek gryp verbete na my engel wat langs my lê maar sy is ewe verbouereerd as ek. Nadat ons die oordeelsdag as ʼn ander verklaring oorweeg het besef ons dat dit ʼn Eskom geskenk is wat nou deurgekom het.

So spot ek ons goedgelowige huiswerker, tuisteskepper Margaret, dat omdat daar net vier ure elektrisiteitsvoorsiening was gister ek haar net halfdag hoef te betaal. Uiteraard was sy nie daarvoor te vinde nie.

Gaan die krag af klink dit of ons in ʼn  nywerheidsgebied woon soos  kragopwekkers aangeskakel word. Niemand mis ʼn aand voor die TV nie en kykers sit, lyk my met ʼn  “remote” wat met die kragopwekker gekoppel is, gereed vir ingeval elektrisiteit skielik ons ontval.

Die Eskom petalje het geestelike lesse. Daaronder dat ons mede afhanklik is van mekaar en die pad moet wys selfs al is dit donker. God se lig gaan nooit uit nie en die Heilige Gees is ʼn betroubare en volhoubare Bron van krag. Daarmee saam kan ons gerus die geskenk van donker ondersoek en die nagtelike hemel waardeer.

God se mooi mense is, te midde van dooie robotte en “potholes” soos altyd op pad werk toe.
Vir hulle spesiaal Dolly Parton se liedjie

Workin' 9 to 5, what a way to make a livin'
Barely gettin' by, it's all takin' and no givin'
They just use your mind and they never give you credit
It's enough to drive you crazy if you let it
9 to 5, for service and devotion
You would think that I would deserve a fat promotion
Want to move ahead but the boss won't seem to let me
I swear sometimes that man is out to get me!

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment