Monday 3 February 2020

Floreer onder druk

In stil wees en vertroue (Jes.30:15) 

Druk is te ene male deel van die wêreld waarin ons woon. Heimlik verlang ons na rustigheid en kalmte en ʼn langdurige vakansie by die see, maar dit is nie die lewe nie.
Om met die eise van ʼn snel veranderende wêreld tred te hou en in die proses jou relevansie te behou is ʼn voltydse werk. Te midde van werkskaarste en gepaardgaande armoede en ontwrigting kan ʼn mens nie bekostig om op jou louere te rus nie. Dit vra na ʼn delikate balans tussen werk en rus (ontspan/vertrou). Jy kan die een nie sonder die andere doen nie.



As jou werk nie na behore gedoen is nie kan jy nie tot rus kom nie, dit sluit die noodwendige studie, kursusse en seminare in. Dit ontsenu ʼn mens om nie te weet terwyl jy moes geweet het nie. Jou taakbeskrywing en die uitkomste wat van jou gevra word vereis dat jy voortdurend opgeskerp moet bly. Trouens dit is waar van die hele lewe. Gister se feitelikhede word vandag bevraagteken. Ons het onsself in die verlede te veel aan ons neuse laat rondlei deur mense wat ons gedink het weet. Jy kan jou verantwoordelikheid om ingelig te wees nie uitkontrakteer nie. Net die vraag wat God van ons verwag in ʼn tyd soos hierdie vra na ʼn analitiese benadering, onderskeidingsvermoë, relevansie en inligting. Die vraag hoe jy in bepaalde omstandighede behoort op te tree vra na ʼn aanpasbaarheid, nederigheid, leerbaarheid en passie. Ons moet vir eens en vir altyd afskeid neem van ʼn slordige, kan nie omgee benadering. Dit beteken dat ons roeping ernstig sal opneem en dit vra na ʼn mens wat opgeskerp lewe.
Te midde van al hierdie druk om by te bly, ingelig en relevant te wees moet ʼn mens leer om God te vertrou en te rus. Rus is niks anders as Godsvertroue nie. Om saans te gaan slaap, nie wetend wat die nag inhou is ʼn verklaring van vertroue in die God wat nooit sluimer of slaap nie. (Ps.121)
Jy kan net floreer onder druk as jy werk en rus. Jy kan net rus as die werk gedoen is en gedoen word.
Jy kan net werk as jy gerus het. Beide is onontbeerlik. 
Terselfdertyd word die twee begrippe delikaat vermeng. 
Rus(tig) werk en al werkende rus. 

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment