Monday 10 February 2020

Genadedood al uitweg

Waarmee is jy besig?

Dr Dawid Kuyler skryf onlangs dat die genadedood al uitweg is vir politieke partye in Suid Afrika.
Dit lyk nie of die uitkoms waarna Suid Afrikaners smag deur politieke intervensie gaan kom nie.
Derhalwe moet burgers daarmee reken dat hulle self sal moet toetree ten einde te red wat te redde is.
In oordragtelike sin dink ek aan so baie dinge wat ons besig hou maar wat geen betekenisvolle bydrae
lewer tot ons lewenskwaliteit nie.

Om ʼn gebalanseerde individu te wees is ʼn ideaal waarna die meeste van ons strewe. Soos ʼn pendulum
bevind ons ons veel eerder aan die uiterste kante van die spektrum. Hoe om by wyse van spreke siel,
gees en liggaam as ʼn geïntegreerde geheel met jou saam te neem ( dis eintlik jy self) ontglip ʼn mens
bykans voortdurend. Die een word ooraksentueer terwyl die ander op die agtergrond bly. Dan verander
die scenario met ʼn prysenswaardige voorneme maar dit hou nie vir lank nie. Nou bevind jy jouself aan die
anderkant van die swaai beweging en beleef jy ʼn wesentlike gebrek aan harmonie en heelheid.



Die enigste oplossing is genadedood, nie vir jou nie maar vir die dinge wat jou besig hou maar min
of geen bydrae maak tot jou gevoel van vervuldheid nie. Dit vra na ʼn eerlike introspeksie en waagmoed
om duidelike besluite te neem. Dit beteken nie dat alles in ʼn mens se lewe moet gaan nie maar dalk moet
dinge wat te veel tyd in beslag neem effens gesnoei word.

TV is daarvan een voorbeeld. Ek is lief vir die prentjie kassie en moet myself voortdurend tot gematigheid
oproep. Soveel van die programme wat vertoon word verrinneweer jou gees eerder as om iets sinvol
daaraan toe te voeg. Ontspanning is een ding maar ʼn voortdurende dieet van gruweldade, reeksmoordenaars,
 menslike oorskot en derde partye gaan iewers in jou gees nesskop. Dit geld vir elke faset van ʼn mens se lewe.
Snoei of sny uit, desnoods, pas genadedood toe.

Vir elkeen van ons beteken dit iets anders. Tyd in die sg. sportsbar na werk saam met vriende, insigself nie
verkeerd nie maar wanneer jou gesin tuis wag dat pa huis toe kom is daar ʼn probleem. So besig om bymekaar
te maak dat daar nie tyd is vir boetie se rugby wedstryd nie. So kan ʼn mens aangaan. In die proses is daar bykans
geen tyd meer vir God nie. Sondae is ontspanningsdae, inkopiedae, kuierdae, ens. Weereens nie noodwendig
verkeerd nie maar waar is die balans en waar is die noodsaaklike opbou en rus wat nodig is om optimaal te
funksioneer?

Mag ons die genade vind om te doen wat gedoen moet word.



Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster


No comments:

Post a Comment