Tuesday 11 February 2020

Onvoorwaardelike vergiffenis


Wanneer ʼn mens oor vergiffenis praat pas nederigheid en deernis. Elke mens se konteks is anders en so ook mense se verwerkingsmeganismes. Sommige mense kom sommer oornag oor ʼn teleurstelling. Ander, vanweë hul persoonlikheid samestelling, veral ander gebeurtenisse en ervarings in hul lewens, vind dit ietwat moeiliker om oor ʼn teleurstelling te kom. Vergiffenis kan nie afgedwing word nie en alhoewel gebed uiters noodsaaklik is beteken dit nie dat die saak meteens opgelos is nie.



Vergiffenis is ʼn gawe en ʼn keuse. God skenk die gawe, die vermoë om aan te beweeg. As die Here nie help nie is ons vasgekeer. Ek is so dankbaar dat Hy ons in ons swakheid tegemoet kom en in staat stel om oor die seer hekkies in ons lewens te kom. Dit is ook ʼn keuse. Somtyds slaan mense kamp op by hulle seer. Dit is ʼn gerieflike verskoning waarom hulle ellendig voel en nie kan aanbeweeg nie. Dit manipuleer ook ietwat daarin dat mense gedurig simpatiseer en luister. Ongelukkig raak mense iewers langs die pad moeg vir iemand wat gedurig kla oor hoe onregverdig die lewe is. Met verdrag begin jy vereensaam en dit maak die seer en emosies nog sterker.

Daar is ʼn kairos, ʼn strategiese moment, ʼn plek en tyd  waar jy weet dat jou geestelike groei en lewenskwaliteit nie langer aan negatiewe gevoelens onderwerp moet word nie. Dit is ʼn oomblik van insig en van vrykom. Dit mag tyd neem maar ʼn mens moet daar kom anders bly jy ʼn gevangene. Die ironie van die saak is dat die persoon wat jy voel jou verontreg het saans heerlik slaap terwyl jy wakker lê. Sy lewe gaan normaal voort terwyl joune op hou geplaas is. Dis eintlik dom om jou so te laat beïnvloed. Verder is die ander persoon dikwels totaal onbewus van die feit dat jy aanstoot geneem het en waarskynlik meer as bereid om verskoning aan te teken sou jy met hom daaroor gesels.

Mnr. Mandela stap na 27 jaar uit die tronk sonder om haat in sy hart rond te dra. “Ek is hier om te dien”, sê hy. “Die saak is groter as my persoonlike gevoelens. Suid Afrika het versoening nodig, nie verdere polarisasie nie:.
Toegegee, van daardie narratief dertig jaar gelede toe hy uit die Victor Verster gevangenis gestap het, het relatief min oorgebly. Daar is te veel haat in hierdie wêreld. God se gebod is liefde. Liefde vergewe. Dalk nie oornag nie maar tog wel iewers langs die pad.
Is dit nie tyd dat jy vergewe nie?

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment