Wednesday 12 February 2020

SONA laat Suid Afrikaners sweet

Twee belangrike merkers hierdie week is die dertigste herdenking van die vrylating van Mnr. Nelson Mandela, bekend as Madiba, na 27 jaar gevangenisskap op Robbeneiland. Hy word dan ook die eerste staatspresident van ʼn demokratiese Suid Afrika en lui ʼn splinternuwe hoofstuk in die geskiedenes van ons land in.

Opmerklik van mnr. Mandela se nalatenskap is sy weiering om toe te gee aan gevoelens van haat en wrokkigheid. Die ideaal wat mnr. Mandela op koers gehou het was die van ʼn verenigde Suid Afrika waarin daar plek is vir al sy mense en niemand  op grond van enige ander klassifikasie beoordeel word behalwe as medemens, in ons taal as Christene, beelddraers van die lewende God nie.



Die ideaal wat mnr. Mandela nagestreef het is niks minder of meer as ʼn gestalte van God se ryk op aarde nie. Ek haal kortliks aan uit sy Rivonia verhoor baie jare gelede “During my lifetime I have dedicated myself to this struggle of the African people. I have fought against white domination, and I have fought against black domination. I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons live together in harmony and with equal opportunities. It is an ideal which I hope to live for and to achieve. But if needs be, it is an ideal for which I am prepared to die.”

Die euforie van daardie dae het ongelukkig versand en baie meningsvormers reken dat ons ver van daardie ideale afgedwaal het. Dit is hartseer dat Suid Afrika in stede van bou op die nuwe grondslag wat demokrasie gelê het eerder die geleentheid aangegryp het om rassisme, vooroordeel, agterdog en onreg plek te gee.

Die ander baken is mnr. Ramaphosa, huidige staatspresident van Suid Afrika se staatsrede vanaand  in Kaapstad. Alles is in rep en roer vir die uithanggeleentheid en bekende strate is reeds dae gesluit terwyl geoefen word om alles seepglad te laat verloop. Met swier en styl sal parlementslede en ander belangrike persone onder toejuiging in blink motors en trompetgeskal by die gebou aankom. Uiteindelik sal mnr. Ramaphosa aan die woord gestel word en Suid Afrika sal hoopvol luister of daar ʼn betekenisvolle gesprek gelewer word.
In die verlede het ons gewoond geraak aan mooi en edel gedagtes maar min daadwerklike aksie.

Ek respekteer die feit dat mnr. Ramaphosa onder baie moeilike omstandighede die leisels oorgeneem het en ʼn bykans bomenslike taak het om aan die uiteenlopende verwagtinge van miljoene Suid Afrikaners te voldoen maar hy  moes  as hoof van die regerende party en aangewese staatspresident vooraf die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard wel deeglik deurdink het. (Terloops, geluk  mnr. Ramaphosa met u verkiesing as voorsitter van die Afrika Unie. Mag u wysheid ontvang om Afrika na nuwe hoogtes te lei).

Terug by u verantwoordelikheid.
Burgers van hierdie land het ʼn regmatige verwagting dat Suid Afrika op ʼn doelmatige en netjiese manier bestuur word. Ongelukkig is die teendeel waar. Verskeie gemeenskappe het nie water om te drink nie terwyl baie van die bronne wat beskikbaar is so besmet is dat daar min mee gedoen kan word. Eskom, soos verskeie ander staatsondersteunde instellings, is besig om onder te gaan.

Leiding en uitkoms met tientalle ander sake soos armoede, werkskepping te midde van ʼn verlammende hoë werkloosheidskoers, ekonomiese groei, misdaad en geweld, ook teen vroue en kinders, gesondheidsorg en onderwys, ook grondhervorming wag op uitvoerbare, realistiese en regverdige aksieplanne.

Dan die klad op ons naam, korrupsie in sy vele gestaltes.

Mnr. Ramaphosa, Suid Afrika sal weer begin hoop wanneer die eerste skurke oranje oorpakke dra, ongeag wie hulle is. Dit beteken nie dat ʼn mens jou geluk op ander se verleentheid bou nie maar die onreg wat teenoor Suid Afrikaners gepleeg is en steeds word,  skree ten hemel.

Dit verskoon niks van die onrustige bewerings wat tans gemaak word met die ondersoek na die dood van die anti - apartheidsaktivis dr. Neil Agget nie.
Mens ril as jy dink aan die vergrype wat klaarblyklik in daardie gebou plaasgevind het. Ek is skaam en verontrus oor wat ek hoor.
Maar een onreg regverdig nie ʼn ander nie.

Seblief mnr. Ramaphosa, by ʼn vorige geleentheid het u ons saam met u aan Thuma mina verbind. Daar het dadels van gekom.
Toe sing u “And Africa will be saved”. Ons kon nie help om saam te sing nie. Vir ʼn oomblik het ons weer geglo.

Ons wil u as verteenwoordiger van die regerende party en hoof van die land  so graag glo.
Ons smag na ʼn nuwe dag.
Miskien kan u op hierdie laat uur nog ʼn sinnetjie of wat by u voordrag byskryf.
Miskien sal u die moed bymekaar skraap om ʼn stap in die regte rigting te gee, ongeag wat u kritici sê.

Terloops, laat maar die sg. suksesse wat gedurende die afgelope jaar behaal is.  
Ons is nou hier.
Hoe vorentoe?

Ek kan u verseker dat daar miljoene Suid Afrikaners van alle agtergronde is wat u staande sal toejuig en daadwerklik sal ondersteun as u ons uit hierdie moeras van onsekerheid  kan lei.

Ons wil hoor wat gedoen gaan word.
Wie gaan dit doen?
Waarmee en wanneer?

Vorentoe kyk na 2030 is goed.
Ons vra dat 2020 nie sal verbygaan sonder dat die skip  gedraai het nie.
Ek en my vrou het vanoggend vir u gebid.
Kaapse Kansel doen dit ook.

Sal u ons net weer aan die sing sit -

If you believe and I believe
And we together pray.
The Holy Spirit will come down
And Africa will be saved.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment