Friday 31 January 2020

43 cm, 1.7 kg. Nuwe Lewe

Asemrowend en belowend.
Ons eerste dogtertjie kleinkind maak eersdaags haar skyning. Die dokter sê sy is ʼn allemintige 42 cm lank en druk die skaal amper op 1.9 kg. Oupa weet nie of haar hare ook rooierig gaan wees soos die ma en pa nie. Ongeag, 10 vingertjies, tien tone, ʼn mondjie en ʼn neusie en ʼn hartjie wat klop is meer as genoeg. Alles is bykans in gereedheid gebring en die opwinding is groot. Gister was dit nog 36 dae, dan is sy hier.
Nuwe lewe.


Soveel belofte, potensiaal, moontlikheid en drome.
Soveel liefde en betekenis.
Strategies ontplooi vir ʼn tyd soos hierdie omdat God nie met toeval of biologiese noodwendigheid werk nie. Sy is in die hemel beplan. Sy word gestuur net soos Jesus in die volheid moes kom. Dit is wat haar en elke ander kindjie se verskyning spesiaal maak, die volheid van die tyd.
In Jesus se geval was die nood van die volk tasbaar. Johannes in die woestyn was ʼn metafoor van die geestelike droogte wat in Israel geheers het. Die Romeinse ryk het ver en wyd gestrek met kommunikasie wee wat die verspreiding van die boodskap ideaal gemaak het. Die Griekse taal is oral gepraat sodat die nuus aangaande Jesus se verskyning vinnig en korrek oorgedra kan word.
Net so is die konteks, omstandigheid, tydsgewrig en tyd presies reg, net soos God dit wou hê en beplan het vir ons kinders en kleinkinders om gebore te word, op te groei en hul plek in te neem. Ons gemeenskaplike roeping is die koms van die koninkryk van God.
Mag ons nuwe waardering hê vir die wonder van nuwe lewe. Mag ons ons kinders behoorlik oppas en grootmaak met die nodige erns. Mag die bose sy hande afhou van hierdie hemelse gawes. Mag Jesus in elke hartjie woon.
Groete
Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment