Wednesday 19 February 2020

Jou woestyn reis



Nadat Jesus deur Johannes gedoop is in die Jordaan en God sy Seun in geen onseker terme aanbeveel het (dit is my geliefde Seun in wie ek ʼn welbehae het) is die volgende sinnetjie onverwags en amper ontstellend (Verwys Markus 1:12vv ). Die Heilige Gees lei Jesus in die woestyn waar Hy vir ʼn volle 40 dae sonder kos en water versoek en beproef word deur die duiwel. Op allerlei slinkse maniere kom die bose deur selfs die Skrif aan te haal om Jesus sover te bring om sy sending na die aarde te verloën en op te skort. Soos die tyd aanstap en die hongerpyne knaag en Jesus se vermoë om fisies, geestelike en intellektueel weerstand te bied hou die bose nie op om die een na die ander leuen op te dis en te kyk of hy die tweede Adam kan laat ontspoor soos vir Adam en Eva destyds in die paradys nie. Nadat Jesus weerstand bied tot die einde blaas die bose die aftog en versorg engele Jesus. `ʼn Mooi opmerking in die Evangelies is dat die wilde diere Jesus geen kwaad aangedoen het terwyl Hy in die woestyn was nie.

Dit gebeur dikwels so dat na ʼn geestelik inspirerende ervaring waarin God se nabyheid tasbaar was die versoeking om die draai lê en wag. Dit vra vir teenwoordigheid van gees en ʼn geankerdheid in God se Woord. Dit is juis die opmerklike van hierdie gebeure. Die Skrif staan sentraal en daar is ʼn geloofwaardige en ongeloofwaardige wyse om dit te gebruik.

Jesus het die woestyn ervaring met dapperheid oorleef. Nou weet die bose by wyse van spreke waar hy met Jesus staan.

Hoe is dit met jou gesteld?

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment