Monday 20 January 2020

Spekboom-Christene

Die lof van die sg. spekboom word deesdae hartlik besing. Dié merkwaardige struik lewer ʼn betekenisvolle bydrae om die lug te suiwer terwyl dit sorg vir ʼn goeie dosis suurstof. Dit kan deur mens en dier geëet word en die blaartjies word deesdae selfs by slaaie gevoeg. Daarbenewens hou skilpaaie, vee, bokke en olifante daarvan. Dit is ook waterryk, kan teen sonbrand ingespan word en het medisinale gebruike. Dit is duidelik dat die maklik aanpasbare plant ʼn aanwins is vir enige tuin en dit is boonop eg Suid Afrikaans. 
Die kwaliteit wat my besonder aanspreek is die vermoë om vuil en besoedelde lug te absorbeer en helende en noodsaaklike suurstof beskikbaar te stel.



Ons samelewing is somtyds erg toksies. Die vuil lug van vooroordeel, agterdog en onderduimsheid laat ʼn mens bykans verstik. Dit is negatief en beroof ʼn mens, alle mense van lewenskwaliteit. Dit ontneem ʼn mens van vreugde en ondergrawe hoop.

Te veel mense gee spreekwoordelik hierdie besoedelde lug af. Christene het nodig om Koninkryksmense te wees. Ons ontgiftig die samelewing van skadelike en siekte veroorsakende gedrag, woorde en optrede. Ons bring heling in ʼn stukkende samelewing en plak genade plakkers op mense se wonde. Ons vertel mense van ʼn ruimte waar jy kan vry asemhaal en nie verstik aan die gekontamineerde lug in die atmosfeer nie.

Soos die spekboom is Christene in oordragtelike sin aangenaam om naby te wees. Hulle bring kleur en versier die wêreld. Hulle bring lafenis en genesing vir die verwondes in die samelewing.
Mag ons gulhartig groeiende spekbome wees. 


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment